Man van SA en vrou aangekla van moord op hul baba

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Suid-Afrikaner en sy meisie word aangekla van marteling van en moord op hul sewe maande oue baba.

Reinhardt Albert Bosch (33) en Noemi Kondacs (22) is glo Donderdag in Australië in hegtenis geneem nadat hofstukke aangedui het die egpaar het hul seuntjie, Rhuan Immanuel Bosch, die grootse deel van sy lewe gemartel.

Volgens die Australiese publikasie The Courier Mail is die seuntjie se liggaam vroeg Donderdagoggend by hul huis in Yugar, noordwes van Brisbane, gekry.

Reinhardt het glo paramedici om 06:45 na hul huis ontbied.

Volgens berige is die paartjie glo diep gelowig en het oor hul baba se liggaam gebid terwyl hulle vir die ambulans gewag het.

Katarina Carroll, polisiekommissaris van Queensland, het glo aan ABC Brisbane gesê dit was ‘n “vreeslike toneel” waarop polisiebeamptes afgekom het.

Sy het bygevoeg dit was die “aakligste en onthutsendste toneel wat jy as polisiebeampte ooit sal teëkom, dit is hartseer dat die kwesbaarste in die gemeenskap nie beskerm word nie.”

David Jackman, speurinspekteur van die Queensland-polisie, het glo gesê in sy 30 jaar as speurder was dit een van die ontstellendste tonele wat hy al gesien het.

Die egpaar het Vrydag virtueel in die hof verskyn op aanklag van marteling en moord. Reinhardt word ook aangekla van aanranding wat liggaamlike beserings veroorsaak terwyl hy gewapen was.

Die egpaar bly in aanhouding.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel