Die veteraan-TV- en-radiopersoonlikheid Jeremy Mansfield is oorlede.
Sy vriendin, Samantha Cowen, het dié nuus Maandag in ‘n verklaring bevestig.
“Vanoggend het ‘n lig in die wêreld uitgegaan. Jeremy Mansfield is net voor dagbreek oorlede. Hy het vreedsaam tuis gesterf omring deur familie en vriende en grenslose liefde.
“Jeremy het ‘n groot lewe gelewe. Hy het nie geweet hoe om dit klein te doen nie. Hy het hard liefgehad, hard gelag en dit reggekry om onheil en chaos met hart en siel te kombineer.
“Die stad was helderder en ligter met hom op die luggolwe. Hy het elke dag lewens verander.
“Hy het miljoene vir liefdadigheid ingesamel.
“Onder ‘n stoute buitekant het Jeremy ‘n groot sagte hart gehad. Baie mense het dit oor die radio gesien en gehoor, maar hy het sy kwesbaarheid vir ‘n paar uitgesoektes gehou.
“Hy was vasbeslote dat die wêreld ‘n beter en blinker en snaakser plek moet wees en hy het die pad na daardie bestemming teen 1 000 myl per uur gery met geen truspieël nie, terwyl die res van ons vir ‘n vale vasgeklou het.
“Ons sal hom mis. Die familie is verpletter en vra vir privaatheid gedurende hierdie tyd.”
Mansfield is in Januarie met lewerkanker gediagnoseer ná ’n vorige stryd met leukemie.
Dokters het bevestig hy het stadium 4-kanker, en hy het dadelik met behandeling begin.
In Augustus 2022 het die geliefde mediapersoonlikheid op Facebook gesê sy kanker is terminaal en hy sal slegs palliatiewe sorg ontvang.
“Die spesialis-chirurg en almal in die span wat na my kyk, het bevestig dat my kanker stadium 4, terminaal, is en nou net aan palliatiewe sorg onderhewig sal wees.”
Mansfield het gesê al wat hy wil doen, was om die tyd wat hy oor het, daaraan te wy om soveel pret as moontlik te hê. Hierdie droomspan (soos ek nou na hulle verwys) sal my lei om soveel pret te hê in die tyd wat ek oor het en soveel drome te verwesenlik, groot en klein, wat ek op my bucket list het.
‘n Nuwe reis vir Kari en die res van ons gesinne begin vandag,” het hy geskryf.
Mansfield het die ore en harte van Mzansi verower met sy programme op Radio 702, Highveld Stereo en Hot 91.9. Sy Highveld Stereo-ontbytprogram, The Rude Awakening, het hom kultusstatus op Suid-Afrikaanse radio gegee.
Hy het ook SABC2 se A Word of 2 , M-Net se Front Row en Supersport aangebied.
Hy het die topverkoper Vrot Jokes-boek en ‘n kookboek saam met sy eks-vrou, Jacqui, getiteld Zhoozsh gepubliseer.
Hy het Hot 91.9 in Februarie 2021 verlaat en het voor sy dood sy Mansfield2day-program op YouTube aangebied. Mansfield se dood het gebroke harte regoor Mzansi gelaat, met huldeblyke wat op sosiale media instroom.
Fotokrediet: EWN



