Die VF Plus het vandag ‘n klag by die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor teen Julius Malema, leier van die EFF, ingedien oor uitlatings wat hy onlangs gemaak het op ’n EFF-konferensie in Kaapstad.
Op videomateriaal van die toespraak kan volgens die VF Plus glo duidelik gehoor word hoe Malema mense aanhits om ’n persoon te vermoor wat glo EFF-lede tydens ’n optog by die Hoërskool Brackenfell aangerand het.
Volgens die VF Plus het hy na bewering onder meer aan die EFF-lede gesê:
“Jy moenie bang wees om dood te maak nie. ’n Revolusie vereis in ’n stadium dat daar doodgemaak moet word, want dit is deel van revolusionêre optrede.”
“Dit is niks anders as aanstigting tot geweld en moord nie,” sê die VF Plus.
“Malema oortree ook die Wet op Oproerige Byeenkomste wat ’n strafregtelike misdryf daarstel wanneer mense aangehits word om geweld of enige ander misdaad te pleeg.”
Die VF Plus het reeds ’n klag van haatspraak en aanhitsing tot geweld ingedien by die Menseregtekommissie (MRK). Die MRK het te kenne gegee dat hy die aangeleentheid ondersoek.
“Die tyd het aangebreek dat daar teen hom opgetree word.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



