Solidariteit gaan Dis-Chem hof toe sleep nadat dié farmaseutiese reus nie aan Solidariteit se sperdatum van 21 Oktober voldoen het om aan te dui of hy sy omstrede verbod op die aanstelling en bevordering van wit mense teruggetrek het nie.
Solidariteit sê hy gaan hierdie week reeds die eerste regsbriewe op Dis-Chem beteken.
Solidariteit het op 18 Oktober aan Dis-Chem geskryf en Dis-Chem op terme geplaas om aan te dui of die omstrede rassebeleid teruggetrek is. Indien nie, het Solidariteit die reg voorbehou om te litigeer.
“Die hele Suid-Afrika wil weet of Dis-Chem net die omstrede memorandum of ook die beleid terugtrek,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “In plaas daarvan om sekerheid te gee, weier Dis-Chem om inligting bekend te maak. Dis-Chem se verklarings is vaag en doen niks om sekerheid te skep nie. Die vraag is eenvoudig: Is daar ʼn verbod op die aanstelling en bevordering van wit werknemers? Die feit dat Dis-Chem weier om die inligting te bevestig, laat ons met geen keuse nie as om te aanvaar dat die beleid gehandhaaf word.”
Volgens Solidariteit gaan Dis-Chem na bewering verder as wat die Wet op Billike Indiensneming toelaat. Solidariteit se regstrategie sal ʼn kombinasie wees van ʼn aansoek om openbaarmaking van inligting en ʼn aansoek by die arbeidshof om Dis-Chem se rassebeleid onwettig te verklaar.
Solidariteit sê die Wet op Billike Indiensneming verbied “absolute plafonne en kwotas en vereis buigsaamheid”.
“Daar is regsbeperkings verbonde aan rassewetgewing. Dis-Chem stel nou ʼn nuwe norm vir die privaat sektor daar. Die wet kan nie verbreek word in ʼn poging om aan ʼn wet te voldoen nie. Regspraak het ook al duidelik gewys dat daar regte van wit werknemers is wat ook beskerm moet word. Rassewetgewing en -beleid mag nie ʼn straf wees nie, maar moet op regstelling fokus. Dis-Chem wil ʼn harde rassebeleid daarstel. Die doel is bloot rasseverteenwoordiging en dit het niks met regstelling te make nie,” het Hermann gesê.
ʼn Herrie het op sosiale media losgebars nadat ʼn memorandum van Dis-Chem se uitvoerende hoof, Ivan Saltzman, waarin ʼn verbod op die aanstelling en bevordering van wit mense gelas is, uitgelek het. In die memorandum spreek Saltzman die vrees uit dat Dis-Chem beboet kan word as hy nie sy rasseteikens haal nie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



