‘n Vroulike huiseienaar het glo ‘n verdagte tydens ‘n gewapende roof doodgeskiet.
Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder sê na bewering was die familie tuis toe hulle Woensdagaand om 19:45 deur gewapende verdagtes in die Morningside-area, Durban, oorval is
‘n Verdagte het glo op hulle begin skiet, waarna beide die huiseienaar en die verdagte raakgeskiet is.
Sake van poging tot moord, roof en ‘n geregtelike doodsondersoek word deur Mayville-polisiestasie ondersoek.
Kyle van Reenen, woordvoerder vir Emer-G-Med, sê met medici se aankoms op die toneel om ongeveer 20:00 het hulle twee beseerde persone gevind.
Hulle het gevorderde lewensondersteunende intervensie toegepas op die vrou wat in ‘n ernstige toestand, met ‘n skietwond in haar rug, gevind is. Sy is gestabiliseer voordat sy per ambulans na ‘n hospitaal geneem is.
‘n Manspersoon, ongeveer 30 jaar oud, is op die toneel dood verklaar.
Daar word beweer dat ‘n aantal gewapende verdagtes toegang tot die huis forseer het en die familie met wapens aangehou het. ‘n Skietery het ontstaan, waartydens die vrou gewond en die verdagte doodgeskiet is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



