Eksklusief: Skolier se militêre versameling van formaat

Deel hierdie storie / Share this story

De Wet Lategan (18), wat van kleins af daarvan hou om items te versamel, het in 2016, toe hy maar ‘n skrale 12 jaar oud was, ‘n nuwe stokperdjie ontdek en vandag het hy ‘n reuse versameling van militêre memorabilia.

Foto verskaf
Foto verskaf

“Ek was altyd meer geïnteresseerd in plakboeke, plakkers en enige item wat ek kon versamel. Ek wou eers dokter word en nodeloos om te sê, toe spaar ek geld om doktersitems aan te koop.”

De Wet se ma sê hy het alles opgegaar en onnodige spasie daarmee opgeneem, maar hy het dit nie so ingesien nie. In die laerskool het hy ‘n fassinerende belangstelling in boeke gehad.

“In 2016 het ek die film Fury, met Brad Pitt gekyk.”

Vir dié wat nog nie die film gesien het nie, verduidelik De Wet, dat dit gaan oor: “‘n Tank crew wat in 1945 hul pad deur die hart van Nazi-Duitsland geveg het. Ek het ‘n portret van die Duitse diktator Adolf Hitler in die fliek herken. Ek het na my boekhut gehardloop, waar ek ‘n boek gehad het oor hierdie oorlog en hierdie diktator.”

De Wet het eers nie oorlog verstaan nie, maar sy kennis het bly groei. Hy het eers net Duitse militêre geskiedenis bestudeer, maar ander nasies soos die Sowjeunie en die Britse ryk het ook sy aandag geprikkel.

“Ek is baie gefassineer deur my eie land se bydrae tot die oorlog. In 2019 het ek by die Aitsa-skoolkoerant, by Hoërskool Diamantveld aangesluit. Tydens my tyd in die redaksie het ek versamelaar en Aitsa-redakteur Jandre du Plessis ontmoet, wat op die plaaslike Afrikaanse televisieprogram Kwêla te sien was. Ek het my fassinasie met hom gedeel en net daar begin ek amptelik militêre memorabilia versamel.”

Dit was eers vir De Wet moeilik omdat hy as gevolg van die inperking nie toegang tot antieke winkels of aanlyn winkels gehad het nie, maar De Wet het nie so vinnig opgegee nie.

“Ek het geweet dat ek ‘n paar familielede het wat gedien het. Ek het by my oupagrootjie begin wat van 1941 tot 1946 in die Tweede Wêreldoorlog gedien het en gedurende 1944 in Italië ontplooi was.”

De Wet is trots om te kan sê dat sy oupa as ‘n vliegtuigwerktuigkundige in die 31ste SALF Eskader gedien het totdat hy as “vliegtuigman” of private (soos in die weermag, of matroos in die vloot) uit die lugmag bedank het.

“Hy is bekroon met die 1939-1945-ster, die Italië-ster, die oorlogsmedalje 1939-1945 en die Afrika-diensmedalje.”

In Mei 2020 het hy toe die voorreg om hierdie nuwe, indrukwekkende versameling saam met sy oupagrootjie te begin.

“My eerste item was die Italy Star, en van daar af het ek die laaste paar medaljes ontvang. Later die jaar het my oom van Mosselbaai vir my bokse SAW-memorabilia gegee.”

Teen daardie tyd het De Wet twee volledige militêre uniforms gehad, een SP Guard-uniform en ‘n 14de Potchefstroom veld-artillerie regiment-uniform.

“Ek het duisende rande gedurende 2020 spandeer. In 2021 het my versameling al aansienlik gegroei en Desember laasjaar was ek bevoorreg en baie dankbaar om Johannesburg toe te gaan om die legendariese Ditsong-museum van militêre geskiedenis te besoek.”

Foto verskaf
Foto verskaf
Foto verskaf

De Wet beskryf dit as die ervaring van ‘n leeftyd.

“Dit was anders as wat ek nog ooit gesien het, van tenks, artillerie, vliegtuie, wapens, gevegstoerusting en uniforms. Dit was werklik ‘n ervaring wat ek altyd sal onthou.

In Mei 2022 het ek by die Suid-Afrikaanse Museumvereniging aangesluit.”

Vandag het hy meer as 500 militêre stukke, van nasies regoor die wêreld, van Groot-Brittanje tot Australië.

“My versameling is meestal gebaseer op memorabilia wat verband hou met moderne oorlogvoering; vanaf die Eerste Wêreldoorlog tot vandag,” sluit hy af.

Indien jy ook ‘n entoesiastiese versamelaar of ‘n soldaat is wat met die jonge De Wet kontak wil maak, stuur ‘n boodskap aan FiND iT Nuus. Of deel ook jou versameling militêre items in die kommentaar.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.