Die VF Plus bekommerd oor die verval in Kaapstad se voorstede.
Paul Jacobson, VF Plus-raadslid, sê Seepunt en die Atlantiese-kusgebied gaan vinnig agteruit en onmiddellike en beslissende stappe is nodig om die veiligheid van inwoners en toeriste te verbeter en om die verval stop te sit.
Jacobson sê terwyl toeriste en besoekers verstom staan voor Kaapstad se natuurlike skoonheid, is daar ‘n ook versteekte onheil besig om pos te vat.
“Gewelddadige daaglikse rooftogte en aanvalle, teistering, openbare onsedelikheid en intimidasie deur straatbewoners vererger daagliks. Dit is duidelik dat aanvalle toeneem en dat owerhede nie genoeg doen om mense te beveilig nie.”
Hy sê Kaapstad word reeds bestempel as een van die gevaarlikste stede in die land en dit kan nie bekostig word dat die toerismebedryf verder benadeel word nie.
“Met onlangse aktiwiteite soos die Kaapstad-marathon, wat selfs mense van oorsee na Kaapstad gebring het, was die terugvoering van besoekers en deelnemers oor die verval in die Stad Kaapstad baie negatief. Haweloosheid en onwettige strukture neem vinnig toe. Dit is reeds ʼn krisis en die situasie moet omgekeer word voordat dit te laat is.”
Volgens die VF Plus is daar te min wetstoepassingspatrollies in die stedelike gebiede soos wat die metroraad onderneem het om in te stel.
Die tyd het aangebreek dat die stad dringend in samewerking met die polisie moet optree om ʼn plan van aksie te beraam om inwoners te beveilig en die verval te stuit.
*Persverklaring
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



