Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het Dinsdag beslag gelê op Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, se bates ter waarde van miljarde rande.
Dit sluit alle roerende eiendomme van Jooste in.
Die bates wat in die ex parte-hofbevel deur die Wes-Kaapse hooggeregshof ingesluit is, sluit sy huis op Hermanus in, die wynplaas Lanzerac, asook bates wat deur sy familietrust, Silveroak Trust, gehou word.
Die motors, tesame met persoonlike besittings wat met Jooste verbind word, sluit sowat R1,4 miljard se kuns, lenings, finansiële bates, juweliersware en ander bates in. Dit sluit ook elf stukke grond by die luukse Val de Vie-landgoed in die Paarl en Jooste se bankrekeninge in.
Só lyk die uiteensetting van bates waarop beslag gelê is:
- Kuns ter waarde van R98 781 614;
- Finansiële bates ter waarde van R1 209 632 255;
- Lenings ter waarde van R131 118 148;
- Swart Isuzu-bakkie ter waarde van R81 200;
- Wit Mercedes Benz ter waarde van R434 300;
- Groen Land Rover ter waarde van R350 000;
- Wit Lexus ter waarde van R293 600;
- Wit Volkswagen Kombi ter waarde van R344 100; en
- Persoonlike besittings van Jooste ter waarde van R795 400.
Die beslaglegging is toegestaan weens Jooste se beweerde oortreding van die Valutabeheerwetgewing.
Jooste is tans op Hermanus woonagtig.
Die Steinhoff-skandaal het vyf jaar gelede meer as R200 miljard van die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) uitgewis en het gelei tot die ineenstorting van 95% in die aandeelprys in 2017.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



