Vergoeding van R375 000 aan ouers wie se kinders tydens skooluutstappie verdrink

Deel hierdie storie / Share this story
  • Die LUR van Onderwys in Noordwes is beveel om R375 000 te betaal aan die familie van elk van drie leerders wat verdrink het terwyl hulle in Maart 2016 op ’n amptelike skooluitstappie was.
  • Twee leerders is dood nadat ’n kano waarmee hulle geroei het, omgeslaan het. Dit is nog onduidelik hoe die derde leerder verdrink het, maar daar word geglo dat hy probeer het om die ander te red.
  • ‘n Regter het bevind dat “onvoldoende stappe geneem is om die leerders te beskerm”.

Die Mahikeng-hooggeregshof in Noordwes het die LUR vir onderwys beveel om R375 000 te betaal aan elk van die families van drie leerders wat ses jaar gelede op ’n amptelike skooluitstappie verdrink het.

Die uitspraak wat op 27 September gelewer is, volg minder as ’n week ná nog ’n tragiese voorval waartydens ’n leerder in die swembad by ’n hotel, waar hy ’n seminaar saam met ander leerders bygewoon het, verdrink het.

In Maart 2016 het drie leerders verdrink tydens ’n amptelike uitstappie wat deur Rustenburg Tegniese Kollege na ’n plaaslike dam gereël is.

Bewyse voor regter Andre Peterson was dat twee leerders gesterf het nadat ’n kano waarin hulle geroei het omgeslaan het. Hoe die derde leerder verdrink het, is steeds “gehul in onsekerheid”, het die regter gesê. Dit is omdat die leerder nie saam met die ander twee in die kano was nie maar sy liggaam ’n ruk later deur die polisie se snuffelhonde ontdek is.

Die hofaksie teen die LUR is deur die voogde en ouers van die leerders begin.

Die LUR het spesifiek enige nalatigheid aan die kant van die onderwyser of enige oorsaaklike verband tussen die dood van die leerders en die stappe wat deur haar geneem is om hul veiligheid te verseker, betwis. Die dam waar die leerders verdrink het, word besit deur die familie van ’n onderwyseres, Linda Conradie.

Conradie het aan die hof gesê dat sy die groep op ’n staproete op die plaas geneem het en toe hulle by die dam verby is, het sommige haar “onverbiddelik gesmeek” om hulle toe te laat om te swem en die kano’s te gebruik. Conradie het gesê geen wateraktiwiteite is beplan nie.

Sy het gesê sy ken nie baie van hulle nie en het navraag gedoen oor hul vermoë om te swem. Net vyf of ses het gesê hulle kan. Diegene wat nie kon nie, het opdrag gekry om naby haar te bly.

“Sy het geglo dat sy ’n goeie swemmer en lewensredder is en was vertroud met die dam omdat sy haar eie kinders toegelaat het om daarin te swem. Sy het gehoor gegee aan hul versoeke,” het regter Petersen gesê.

Alles het goed gegaan. Sy het besluit dis genoeg toe van die leerders vra of hulle ’n laaste keer in die kano kan roei. Sy sien toe hoe dit omslaan en het opgemerk dat wanneer die seuns opduik, een angstig en bang voorgekom het. Nog een het aan die kano vasgeklou. Sy het besef hulle het hulp nodig en sy het na hulle uitgeswem.

Conradie het getuig die watervlak was tot by haar neus toe sy hulle bereik het. Albei leerders was benoud. Sy het een van hul hande gevat en die ander een het om haar nek gehang, wat haar laat sink het.

Sy het besef sy loop gevaar om saam met hulle te verdrink en het toe na die leerders wat op die damwal gestaan het geroep om ’n stok te vind en ’n menslike ketting te vorm om haar by te staan. Teen daardie tyd het sommige gehardloop om hulp van haar man en seun te ontbied.

Toe die leerders uiteindelik uit die water getrek is, het hulle gesterf.

“Sy kon nie verduidelik hoe die ander seun verdrink het nie, behalwe vir terugflitse waar dit lyk of sy hom aan die voorkant van die menslike ketting sien … sy liggaam is eers ’n ruk later gehaal nadat dit deur polisiehonde gevind is,” het die regter gesê.

“’n Feit wat uitstaan, is dat die uitstappie geen waterverwante aktiwiteite in die vooruitsig gestel het nie en dat ouers se toestemming nie gegee is nie,” het regter Petersen gesê.

“Conradie moes terdeë hiervan bewus gewees het – ten spyte van die onverbiddelike gesmeek deur die leerders om te swem. Sy was in die posisie van ’n versigtige ma en moes geweier het.”

Terwyl sy stappe gedoen het om vas te stel watter leerders kon swem, was dit “nie voldoende in die omstandighede wat op die ingewing van die oomblik geheers het nie,” het die regter gesê.

Die diepte van die dam was onbekend en geen reddingsbaadjies was beskikbaar nie. “Met die aantal leerders wat nie kon swem nie, en dat sy die enigste onderwyser of volwassene was om redelike toesig te verseker om skade te voorkom, wat voorsien of verwag moes word.

“Dit op sigself is ’n duidelike aanduiding dat onvoldoende stappe geneem is om die leerders te beskerm. Die derde seun het in onverklaarbare omstandighede verdrink.”

Regter Petersen het gesê Conradie se eie weergawe het oorweldigend bewys sy was nalatig en die leerders se voogde en ouers – wat in ’n situasie soortgelyk was aan die ouers van Michael Komape [wat in ’n puttoilet by sy skool verdrink het] – is geregtig op algemene skadevergoeding vir emosionele skok.

“Hul dood vra ongetwyfeld steeds meer vrae as antwoorde. Dit was meer as ses en half jaar met geen sluiting (closure) vir hulle nie.”

Die regter het opgemerk dat die departement destyds R50 000 aan elke gesin vir die begrafniskoste betaal het en R375 000 aan elkeen vir algemene skadevergoeding toegeken het. Hy het die LUR beveel om die koste van die hofaksie te betaal.

Deur Tania Broughton (GroundUp)

FiND iT het die artikel vertaal.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel