Nog twee polisiebeampes aan diens doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

Twee polisiebeamptes, ‘n konstabel (29) met drie jaar diens en ‘n sersant (45) met 18 jaar diens, beide gestastioneer by Bosksburg-Noord-polisiestasie in Gauteng, is gisteraand doodgeskiet tydens die uitvoering van hul pligte.

Kol. Athlenda Mathe, nasionale woordvoerder, sê die lede het na bewering op ‘n klagte van ‘n onnatuurlike dood reageer en het gewag vir ‘n lykswa om te arriveer toe hulle deur drie onbekende mans oorrompel en aangeval is.

Tydens die aanval is hulle van hul dienswapens beroof en noodlottig gewond. Die verdagtes het per voet gevlug met die dienswapens en die lede se koeëlvastebaadjies.

Alle rolspelers is geaktiveer en ‘n soektog is van stapel gestuur om die aanvallers vas te trek en die staatsvuurwapens en koeëlvastebaadjies te herwin.

“Die moord op polisiebeamptes in die uitvoering van hul pligte vir hul dienspistole ondermyn die gesag van die staat en die behoorlike funksionering van die strafregstelsel. Terwyl ons ons polisieveiligheidstrategie beplan en hersien, doen ons as bestuur ‘n beroep op groter samewerking met ons burgers om gesamentlik ‘n einde aan sulke voorvalle te maak. Ons glo dat sulke voorvalle voorkom kan word. Ons sal nie rus totdat ons diegene agter die aanval en moord op polisiebeamptes vind nie. My innige meegevoel met die familie, vriende en kollegas van die twee lede,” het genl. Fannie Masemola gesê.

Enigiemand met inligting oor die voorval word aangemoedig om die Crime Stop Hotline-nommer by 08600 10111 te skakel of die MySAPS-toepassing op enige Android- of slimfoon af te laai. Inligting sal met vertroulikheid hanteer word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel