‘n Man (52) en sy twee vermeende medepligtiges van 40 en 48 jaar is in hegtenis geneem vir die beweerde moord op sy vervreemde vrou (47).
Haar liggaam is in Junie 2021 in ‘n plas bloed by haar huis in Onverwacht buite Lephalale gevind.
Die polisie se ondersoek het vasgestel dat die oorledene se man na bewering twee huurmoordenaars gehuur het om sy vrou, Sbongile Ditsela, by hul huis te vermoor.
Die verdagte het glo op die betrokke dag na die huis gegaan om reëlings te tref om sy dogter ná skool te gaan haal.
Nadat die huishulp vir hom oopgemaak het, is hy glo reguit na die slaapkamer waar hy sy vrou in ‘n plas bloed met veelvuldige steekwonde gevind het.
Die polisie is na die toneel ontbied. Daar is gevind dat die verdagtes die venster gebreek het om toegang tot die slaapkamer te verkry sonder dat iemand in die huis dit agtergekom het.
Die oorledene is met ‘n tou verwurg en die verdagtes is weg met haar selfoon en motorsleutels.
Die eerste verdagte is op 7 Oktober in Ga-Makanye gearresteer.
Die oorledene se man is Sondag by sy ander huis in Ga-Seleka in Lephalale gearresteer en die derde verdagte is Woensdag in die vroeë oggendure in Mankweng in hegtenis geneem.
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, het die ondersoekspan geloof vir hul uitstekende ondersoek en gemeenskapslede bedank vir die positiewe inligting wat gelei het tot die arrestasie van die verdagtes.
Twee van die verdagtes het gister, Dinsdag 11 Oktober 2022, in die Lephalale-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en huisroof.
Hul saak is tot 14 Oktober 2022 uitgestel vir formele borgtogaansoek. Die derde verdagte sal na verwagting vandag, 13 Oktober, verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



