Turk het langste neus ter wêreld

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Turkse man vier fees nadat hy sy plek as die man met die langste neus op die planeet ingeneem het.

Wat lang neuse betref, is Mehmet Özyürek (71) nommer een in die Guinness World Book of Records nadat hy elf jaar gelede ook die titel gewen het.

Özyürek se neus meet 8.8 cm lank van die brug tot by die punt.

Mehmet se supergroot neus is dalk ‘n bewys van die mite dat jou neus en ore aanhou groei soos jy ouer word.

“My reuksintuig verskil van ander mens s’n, ek kan baie meer goed ruik wat ander mense nie kan nie,” sê Mehmet.

Dit is egter nie al wat Mehmet met sy neus kan doen nie!

Met sy 2010-verskyning op die Italiaanse TV-program Lo Show Dei Record, het hy vir die skare gewys hoe hy ‘n ballon met sy neusgat kan opblaas!

Groot neuse loop in Mehmet se familie en die kenmerkende vorm blyk geneties te wees.

“Ek het so ‘n spesiale kenmerk. “Dit is ‘n genetiese toestand sover ek verstaan. Daar was geen verduideliking deur dokters nie, maar ek het dit in my familie, so my pa het dit, my ooms het dit, en ek het dit.”

Vreemd genoeg het dié spesifieke vorm neus egter nie in die generasies ná Mehmet opgeduik nie.

Toe Mehmet jonger was, het hy wel onvriendelike opmerkings ervaar. “My vriende het my altyd “grootneus” genoem om my te ontstel.

“God het my so gemaak, daar is niks wat aan hierdie situasie gedoen kan word nie. Ek het geleer om in vrede met my liggaamsbou te leef.”

Mehmet is nou gelukkig met sy neus, maar hy trek steeds baie aandag wanneer hy iewers gaan.

“Wanneer ek ‘n sosiale situasie betree, trek ek dadelik aandag. Almal kyk na my. Hulle ondersoek my. Ek weet wat hulle dink as hulle na my kyk.”

Ten spyte van alles, is Mehmet geweldig trots op sy rekordneus.

“Ek is natuurlik lief vir my neus, ek is geseën. “Ek is uiters bly om Turkye op ’n internasionale skaal te verteenwoordig.”

Na bewering het die langste neus ooit aan Thomas Wedders behoort, wat gedurende die 1770’s in Engeland gewoon het.

Daar is historiese verslae dat Wedders, wat ‘n lid van ‘n reisende sirkus was, ‘n neus gehad het wat ‘n ongelooflike 19 cm lank gemeet het.

Foto’s: Guinness World Records

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel