Die SAPD verwelkom die moordvonnis van 20 jaar wat onlangs in die hooggeregshof in Kimberley aan Eldene Wilkinson vir die moord op sy meisie, Danielle van der Linde, opgelê is.
Eldene Wilkinson (30) en sy meisie Danielle van der Linde (29) het op 15 Mei 2022 ‘n rusie gehad wat gelei het tot die noodlottige messteek van Danielle by haar huis in Florianville in Kimberley.
Danielle was swanger en Wilkinson het haar twee keer in die nek gesteek. Wilkinson het van die toneel gevlug, maar homself die volgende dag aan die polisie oorgegee.
Die polisie het borgtog teengestaan en die beskuldigde het in aanhouding gebly tot en met sy vonnisoplegging. Wilkinson het skuld beken en ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Hy is Dinsdag 11 Oktobter 2022 in die hooggeregshof in Kimberley vir die moord tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Die Kimberley-SAPD se stasiebevelvoerder, brig. Nicky Mtongana, het konst. Jon-Ross Webb van die Kimberley-eenheid vir ernstige en gewelddadige misdade, vir sy noukeurige ondersoek geprys.
Hy het ook herhaal dat GBVF een van die prioriteite in die SAPD bly en het ‘n beroep op slagoffers gedoen om hul uit te spreek teen hierdie kriminele dade.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



