Twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem toe hulle glo werknemers en kliënte by ‘n besigheid in eSikhaleni, KwaZulu-Natal, met vuurwapens gedreig het.
Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê die voorval het omstreeks 22:00 op 7 Oktober plaasgevind.
Die verdagtes het die kassiere met vuurwapens gedreig en wou geld, selfone en motorsleutels by die klante hê.
Die polisie is in kennis gestel. Hulle het vinnig reageer en die besigheid binnegegaan.
Twee verdagtes van 31 en 34 jaar oud is op die toneel in hegtenis geneem. Een was glo in die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
Twee van die verdagtes het ontsnap. Die polisie is steeds op soek na hulle.
Die twee wat in hegtenis geneem is, verskyn vandag in die Esikhaleni-landdroshof.



