Takelot onbewus van oortreding, maar sal aan vereistes voldoen

Deel hierdie storie / Share this story

Takealot is ten volle daartoe verbind om aan alle wette te voldoen en om ‘n veilige werksomgewing vir alle personeel te bied. 

Takealot is in die moeilikheid by die departement van indiensneming en arbeid oor gesondheid- en veiligheidskwessies, asook die aanstel van ongedokumenteerde buitelanders.

Die departement het in ’n verklaring gesê hulle het drie kennisgewings vir nie-nakoming van gesondheid- en veiligheidsregulasies aan Takealot in Gauteng uitgereik.

Lees die vorige berig hier.

Die departement het Takealot ’n tydperk van 60 dae vanaf die datum van die kennisgewing gegee om alles in orde te kry.

Kalay Maistry, skakelwesebestuurder van Razor, vir Takealot, sê Takealot is bewus van die kennisgewings wat deur die departement uitgereik is met betrekking tot die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid 85 van 1993, en Takealot sal werk om te voldoen aan die departement se vereiste vir regstellende stappe wat binne die volgende 60 dae geneem moet word.

“Ons is egter onbewus van enige oortreding of nie-nakoming wat verband hou met die Wet op Werkloosheidsversekeringsfonds, Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, die Wet op Basiese Diensvoorwaardes soos deur die departement beweer word.

Maistry sê Takealot pas streng prosedures toe met betrekking tot die verifikasie van personeelidentifikasie en kwalifikasies. 

“Ons voldoen ook aan die industriestandaard van die uitvoer van agtergrond- en kriminele ondersoeke op permanente en semi-permanente aanstellings. Takealot sal nie willens en wetens iemand in diens neem wat ongedokumenteerd is of wat vals dokumente verskaf het nie.

“Takealot is daartoe verbind om ‘n verantwoordelike korporatiewe burger te wees en sal enige beweerde leemtes aanspreek.”