’n Pastoor is in hegtenis geneem omdat hy na bewering 13 kinders tussen die ouderdomme van vyf en 17 jaar oud in die Luvisi-dorpie in die Nquthu-munisipaliteit, in die noorde van KwaZulu-Natal, verkrag het.
Nonhlanhla Khoza, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in KZN, het Donderdag gesê die pastoor het glo jong meisies en seuns gelok om na spotprente en later pornografiese video’s te kyk.
Daar word beweer hy het kinders in 2021 begin molesteer, met die laaste voorval op 18 September.
Die 56-jarige is na bewering uitgevang toe ‘n seun sy ma van die beweerde mishandeling vertel het, met besonderhede oor ander slagoffers – 11 seuns en twee meisies.
Dié slagoffer se ma het die inligting met ander slagoffers geverifieer voordat dit by die plaaslike polisie aangemeld is.
Khoza het die beweerde verkragting en mishandeling deur die pastoor, ‘n leier wat deur die dorpenaars vertrou is, veroordeel.
“Ons doen ’n beroep op ouers en gemeenskappe om ekstra waaksaam te wees en meer aandag aan hul kinders te gee. Hierdie kinders het gedurig na skool die dominee besoek omdat hulle gemanipuleer is,” het sy gesê.
Sy het ‘n ouer geprys wat iets verkeerd by haar seun opgemerk het, wat daartoe gelei het dat meer mishandelde kinders gevind is.
“Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om slagoffers en hul ouers te ondersteun om stewige sake op te bou en die oortreders aan te kla. Kindermishandeling en verkragting het geen plek in ons samelewing nie.
“Ons doen ’n beroep op alle mans, vroue en kinders om op te staan en hul stemme te laat hoor. Ons kan nie stilbly terwyl ons kinders ly onder die hande van mense wat veronderstel is om hulle te beskerm nie. Ons moet saamwerk om hierdie dade teen kinders te beëindig,” het sy gesê.
‘n Span maatskaplike werkers is na die dorp gestuur om ondersteuning aan die slagoffers en families te bied.
“Mense soos hierdie moet vir ‘n lang tyd tronk toe gestuur word en wetstoepassingsagentskappe moet alle skuiwergate in die sake toemaak. Die man moet nie borgtog kry nie, aangesien hy ’n gevaar vir die samelewing is.”
Die pastoor moet binnekort in die hof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



