Hier is hulle: Die Real Housewives van Pretoria

Deel hierdie storie / Share this story

Die ses vroue wat sal deelneem aan die eerste seisoen van die langverwagte Die Real Housewives van Pretoria is bekendgemaak.

Die Real Housewives van Pretoria, ’n werklikheidsreeks, sal in Oktober uitgesaai word en sal fokus op die alledaagse lewens van ses huisvrouens.

Pretorianers sal onmiddellik baie van die deelnemers se name herken.

Renske Lammerding, Marie Bosman, Talana Kuhn, Kiki La Coco, Mel Viljoen en Rhona Erasmus se luukse voertuie, herehuise en eksotiese vakansies sal die afguns van baie kykers wees.

Renske Lammerding en ook haar man Heinrich is welbekend in die Silver Lakes-area vir haar boetiek.

Marie Bosman is ’n pastoor wat baie het om te sê. Na twee egskeidings het sy besluit sy sal nooit aan haar verander om in iemand anders se lewe te pas nie.

Talana Kuhn, een van die jongste deelneemers, is ’n sakevrou en eienaar van EarthDK en Millenial Marketing. Sy is ’n ma van een en is tans swanger met haar tweede kind. Sy het ook ’n selfhelpjoernaal geskryf wat sy hierdie jaar gaan publiseer.

Kiki La Coco is ’n inhoudskepper wat bekend is vir haar “lip syncing”-video’s op TikTok. Sy spog tans met 390 000 volgelinge op dié platform. Haar man, Malcolm Wentzel, is ’n multimiljoener en hulle woon in Mpumalanga.

Mel Viljoen is ’n plaasmeisie wat nou die president is van Tammy Taylor Nails. Haar man, Mel, is ’n bekende prokureur en uitvoerende hoof van Tammy Taylor Nails.

Rhona Erasmus is gebore in Meyerton en is deesdae die eienaar van twee ondernemings. Erasmus is ’n reguit persoon wat iets vir jou in jou gesig sal sê voordat sy agter jou rug sal skinder.

Die Real Housewives van Pretoria is vanaf 13 Oktober elke Donderdag om 20:00 op kykNET, DSTV kanaal 144 te sien.