Bewustelose kind uit motor gered

Deel hierdie storie / Share this story

’n Kind van sowat vier jaar oud is Maandagmiddag uit ’n motor in die parkeerarea van ’n winkelsentrum op Ballito gered.

Die jong meisie is na bewering vir meer as drie uur in die motor gelos terwyl die ouers by die Ballito Junction inkopies gedoen het.

Met vensters toe en die deure gesluit, was daar geen ventilasie of lugvloei vir die kind nie.

‘n Winkelsentrum se sekuriteitswag het opgemerk dat die kind nie reageer nie en die winkelsentrumbestuur in kennis gestel, wat paramedici ontbied het.

Met hul aankoms het paramedici onmiddellik gedwonge toegang tot die voertuig gekry.

“Nadat sy op suurstof geplaas is, het sy haar bewussyn herwin,” het Medi Response-woordvoerder, Paul Herbst, gesê.

SAPD-beamptes het op die toneel gereageer en die ouers in die winkelsentrum gevind, met die kind wat in die sorg van mediese praktisyns geplaas is, het Herbst gesê.