Die ma, ‘n glanspersoonlikheid wat geen bekendstelling nodig het nie en by plaaslike en internasionale modelkompetisies betrokke is, het soos vele ouers met ‘n skok agtergekom dat haar 16-jarige dogter erg onder boelies by die skool deurloop.
Sy beskryf die aaklige ervaring waardeur geen ouer met ‘n kind wil gaan nie tydens ‘n telefoongesprek aan FiND-iT Nuus:
“Waarheen gaan mens vir hulp wat regtig ‘n verskil maak?”
“Ek het Woensdag 17 Augustus by die huis gestop en my dogter in haar slaapkamer gevind waar sy slaap omdat sy “moeg” is. (Agterna het sy vir my gesê sy het pille gedrink wat sy by ‘n meisie in die skool gekry het.)
Die Donderdag 18 Augustus het ek buite by die hek gestop om haar op te laai om kafee toe te ry. Sy het vir my gesê sy het weer geslaap. ‘n Entjie verder het sy my gevra om te stop omdat sy naar was. Ek het stilgehou, waarna sy opgegooi het en baie swak was. Sy het vir my gesê dat sy pille gedrink het, maar nie weet hoeveel nie. Van dit het sy die vorige dag by ‘n skoolmeisie gekry en die res by die huis.
Haar verduideliking was dat sy die pille gedrink het omdat sy nie meer die pressure van boelies by die skool kan vat nie.
Ek is dadelik met haar hospitaal toe waarna sy opgeneem en op ‘n drup gesit is en sy water moes drink. Ons het eers die aand halftwaalf tuisgekom.
Ons is die volgende dag19 Augustus na ‘n sielkundige toe wat haar na ‘n psigiater verwys het. Sy kon haar darem nog dieselfde dag sien. Vir beide het sy gesê dat sy deur ‘n groep meisies by die skool geboelie word.
Sy is vir die week afgeboek sodat ons by mekaar kon wees en ek haar kon bystaan.
Op 22 Augutus het ek die situasie aan die skoolhoof gerapporteer, in die teenwoordigheid van nog ‘n onderwyser. Die hoof het gesê hy sal die voorval ondersoek.
Van die 22ste tot die 24ste Augustus het my dogter elke dag die psigiater gaan sien. Tydens 31 Augustus se konsultasie is medikasie aan haar voorgeskryf.
Na die week verby is, is sy terug skool toe en is daar nog niks aan die voorval gedoen nie. Die hoof het my meegedeel dat hy vir ‘n onderwyser wag.
Weer het niks gebeur nie, en by navraag het hy vir my gesê die graadhoof sal dit ondersoek.
Op 1 September het my dogter ‘n angsaanval by die skool gekry, omdat die boelies naby haar in die klas gesit het. ‘n Vriendin kon haar dadelik namens my gaan haal.
Ons het reeds in die tweede termyn die boelies by die dissiplinêre onderwyser aangemeld, maar niks is volgens my wete daaraan gedoen nie.
Maandag 5 September het sy die groep meisies by haar tas gesien. Toe sy later haar kosblik uithaal en oopmaak, was daar ‘n wurm in en kon sy nie eet nie.
Intussen moes my dogter van die skool se kant af hoor: “Jy is oorsensitief.”
Op 7 September is sy by die skool gestamp (geskouer).
Met die besoek aan die psigiater op 9 September is daar ‘n brief aan die skool geskryf om ondersteuning aan haar te gee. Haar opvolgbesoek is vir 15 September geskeduleer.”
Die skokke het nie hier geeïndig nie. Intussen het die ma se broer haar gekontak en gevra of sy gesien het wat haar dogter op Facebook geplaas het.
Die plasing wat intussen verwyder is, is aan FiND-iT gegee en lees soos volg:
“Ek is moeg vir alle drama, ek was in die hospitaal as gevolg van boelie wat aangaan in my skool, ek wou selfmoord pleeg en wil nog steeds maar daar word gesê dat ek net ‘n sensitiewe persoon is. Die kinders sê even dat my ma te vet is vir model en my ma is net perfek soos sy is. Ek hou nie van die gedrag van boelie nie, hulle sit even wurms in my kos so ek kan nie eers eet by die skool nie. Ek word gestamp deur boelies ek weet nie meer wat om te doen nie, want die saak kom al van die 2de kwartaal af en dit is al die einde van die 3de kwartaal. Ek wil rerig hê die boelie moet stop, dit help nie mense praat met hulle nie, want hulle gaan net aanhou. Even die rumours wat in die skool van my aangaan word net meer en meer versprei. Hulle sal sê dat ek saam met elke outjie slaap, maar die mense wat my ken weet ek stel nie eers belang in dit nie, ek is 16, ek stel glad nie belang nie. Ek is moedeloos en weet nie meer wat om te doen nie. Ek beseer myself as gevolg van boelies.”
Die ma het haar intussen na die departement van onderwys gewend, wat ‘n verduideliking per e-pos aangevra het.
Sy gaan nou haar titels as nasionale en internasionale modelkompetisie-wenner gebruik as platform vir bewusmaking en om haar dogter wat die belangrikste oorweging daarvoor is, te help. ‘n Foto-kompetisie word eerstens geloods waarvan die besonderhede deur FiND-iT Nuus bekendgemaak sal word sodra dit gefinaliseer is.
“My dogter ly reeds aan angsversteuring. Wanneer hulle met haar praat, skeur sy al die velletjies langs haar naels af. Sy móét net gehelp word.”
Op ‘n vraag van FiND-iT Nuus of hulle oorweeg om haar uit die skool te haal, het die bekommerde ma dadelik ja gesê, maar hulle moet nou deur ‘n aansoekproses gaan om haar in ‘n nuwe skool geplaas te kry.
Volg FiND iT se Facebook-blad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Volg ons op Telegram by https://t.me/finditnuus.
Indien jy belangstel in bemarking volg hierdie skakel
https://find-it.co.za/2022/07/26/adverteer-en-bemark/



