Mieliepaptert

Deel hierdie storie / Share this story

Jy kan dié tert in ‘n pot oor die vuur of in die oond gaarmaak.

Genoeg vir: 6
Bereidingstyd: 40 minute
Gaarmaaktyd: sowat 1 uur 40 minute
Oondtemperatuur: 180 °C

Bestanddele:

25 ml olyfolie of botter
250 g swoerdlose gerookte spek, gekap
3 groot uie, gekap
2 huisies knoffel, fyngedruk
250 g sampioene, gesny
100 ml droë wit wyn
5 ml droë kruie (basilie of origanum), of 15 ml vars kruie
2 x 425 g-blikkies gekapte tamaties
750 ml mieliemeel
1 x 410 g-blikkie suikermielies
300 ml gerasperde cheddar
250 g swoerdlose strepiespek

SOUS:
Verhit die olie in ‘n pot en braai die gekapte spek oor matige hitte. Skep die spek uit die pot uit. Braai die uie en knoffel tot goudbruin. Voeg die sampioene by en braai vir ‘n minuut. Skep die spek terug in die pot en verhoog die hitte.
Voeg die wyn saam met die droë kruie by. (As jy vars kruie gebruik, moet jy dit eers byvoeg as die sous klaar is.) Laat kook en prut vir sowat vyf minute. Voeg die tamaties by en kook oor hoë hitte tot die mengsel verdik. Hou aan roer om te keer dat dit brand. Haal van die hitte af en sit eenkant.

PAP:
Gooi  750 ml water in ‘n ander pot en roer die mieliemeel en 15 ml sout by. Kook oor lae hitte en roer totdat dit begin kook. Hou aan roer oor lae hitte vir agt tot 10 minute. Voeg die suikermielies by en haal van die vuur af.
Smeer ‘n oondvaste skottel, of gooi olie in ‘n platboom-swartpot as jy dit oor die vuur gaan gaarmaak. Skep ‘n 3 cm-laag pap op die bodem en bedek dit met ‘n laag sous. Gaan voort met die lae en eindig met ‘n laag sous. Bedek met gerasperde kaas en pak die strepiespek in ‘n kruispatroon bo-op die kaas.
Bak in ‘n voorverhitte oond vir 40 minute tot een uur. As jy dit oor die vuur wil gaarmaak, moet jy ‘n paar kole onder die pot pak en dit vir een uur stadig gaarmaak. Pak dan ‘n paar kole bo-op die deksel en bak dit vir nog 15 minute. Kyk af en toe dat dit nie brand nie.
Blink idee: Jy kan die resep halveer sodat dit in ‘n standaardgrootte oondvaste skottel van 22 cm pas.

Bron: Idees / Kos & Onthaal
Plasing: Joey Krüger / WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel