Die grusame moord op ‘n vrou wie se liggaam in ‘n plas bloed in haar huis gevind is, het skokgolwe deur die Suid-Kaapse dorp, Oudtshoorn, gestuur.
Shirley Witbooi (62) is laasweek Donderdag deur haar man, Karel Witbooi, in ‘n plas bloed in hul huis in Smartie Town, Oudtshoorn, aangetref.
Volgens Karel was hy op die dag van die gebeure nie by die huis nie. Hy het haar liggaam ongeveer 18:45 ontdek.
Hy het aan die Oudtshoorn Courant vertel hy gaan kuier elke dag oor die pad by vriende en loer dan so nou en dan by die huis in.
“Donderdag was die krag van die oggend sesuur tot die aand sesuur af en dis hoekom ek besluit het om eers later huis toe te gaan toe die krag aan was. Met die intrapslag het ek dadelik opgemerk dat iets fout is, want die ligte was af en die voordeur was nie gesluit nie. Toe ek met my rolstoel in die huis ry, het ek op my vrou afgekom waar sy onder bloed lê. Ek was erg geskok en het dadelik die polisie gebel.”
Sy seun was die enigste persoon tuis saam met sy ma ten tyde van die grusame voorval, maar Karel het terselfdertyd ‘n pleidood gerig dat geen gevolgtrekkings gemaak moet word nie.
Witbooi het ook aan die Oudtshoorn Courant bevestig dat sy seun dieselfde aand deur die polisie in hegtenis geneem is.
Navrae aan die Oudtshoorn-polisie het bevestig dat ‘n 29-jarige man dieselfde dag op aanklag van moord gearresteer is.
Volgens ‘n verklaring deur die polisie het hulle ‘n oproep ontvang oor ‘n vrou wat met bylwonde in haar woning lê. Sy het verskeie wonde aan haar liggaam gehad en het op die vloer in die huis gelê. Met die polisie se aankoms op die toneel is die 64-jarige vrou dood verklaar.



