Man slaan niggie met ysterpaal dood

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Man van Dysselsdorp is 10 jaar tronkstraf opgelê nadat hy sy niggie met ‘n ysterpaal doodgeslaan het.

Kenneth Rabie (31) is Donderdag 25 Augustus in die landdroshof op Oudtshoorn aan moord skuldig bevind.

Rabie het erken dat hy sy niggie op 26 Maart tydens ‘n stryery oor geld, wat sy glo by sy oupa gevat het, doodgeslaan het.

Volgens Rabie het sy woede die oorhand gekry en het hy haar eers op haar bene met die ysterpaal geslaan en toe in haar sy. Hy het erken dat hy onder die invloed van dagga en tik was.

Rabie se prokureur het die hof vir afwyking van die minimum vonnis van 15 jaar gevra omdat Rabie skuldig gepleit het.

Die streeklanddros, Ntoki Moni, het met die vonnisoplegging gesê Rabie het ‘n weerlose vrou vermoor wie se kinders nou sonder ‘n ma moet grootword.