Arrestasie van beweerde staatskapers verwelkom

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het vandag die arrestasie van Brian Molefe sowel as Anoj Singh weens beweerde korrupsie by Transnet verwelkom. Hierdie arrestasies volg nadat Solidariteit vroeër vanjaar strafklagte teen Molefe en Singh by die Brooklyn-polisiekantoor aanhangig gemaak het.

Solidariteit sê hoewel hierdie arrestasies positief is, is geregtigheid alreeds hopeloos te lank uitgestel, en Suid-Afrikaanse burgers verdien onmiddellike optrede vanaf die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander strukture met betrekking tot ander beweerde staatskapers.

“Die absolute onreg van jarelange korrupsie en diefstal kan nie langer voortduur weens ʼn oneindige gesloer van ons strafregtelike stelsel se kant af nie. Hierdie sake moet voortgaan. Hierdie stap is ʼn baie goeie tree in die regte rigting, maar daar moet deurlopende druk op ons veiligheidsdienste wees om hulle werk te doen, en enige verdere gesleep van voete sal nie geduld word nie,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Staatskapers het werkers se werk en toekoms asook belastingbetalers se swaarverdiende geld gesteel. Ons kan nie toelaat dat werkers se werk en geld gesteel word en plunderaars vry rondloop met al die geld nie. Dit is ons plig om namens ons lede te help om staatskapers te vervolg,” sê Hermann.

Solidariteit voer aan dat die skade wat korrupsie berokken nie beperk is tot finansiële verlies nie, maar dat dit die staat se vermoë om kritieke dienste te lewer vernietig. Dit kweek wantroue onder burgers teenoor ons regstelsel.

“As daar hoop en enigsins vertroue onder Suid-Afrikaners in die regsproses oorbly, moet daar nagevolge wees vir diegene wat hulself onregmatig verryk ten koste van die land se welvaart en voortbestaan. Suid-Afrika in die algemeen en werkers in die besonder eis verantwoordbaarheid. Ons wil mense in oranje oorpakke sien om as voorbeeld te dien vir enigeen wat dit weer sou oorweeg om werkers en belastingbetalers se geld te plunder,” sluit Hermann af.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel