Vrystaat stagneer, verkwis R102 m.

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Toename van R26 miljoen in verkwiste uitgawes wys dat die Vrystaatse ANC-regering nie in staat is om dié provinsie se geldsake te bestuur nie, sê die VF Plus in ‘n verklaring.

Vrugtelose uitgawes in die Vrystaat vir die 2019/2021-boekjaar het R71 miljoen beloop en het in 2020/2021 tot R102 miljoen verhoog. Die agteruitgang duur reeds jare sonder enige teken van verbetering.

Nie een provinsiale departement kon ʼn verbetering in oudituitkomste vir die jaar toon nie.

Selfs die provinsiale tesourie het swakker oudituitkomste as die vorige finansiële jaar ontvang.

Die algemene indruk van die ouditeur-generaal (OG) oor die Vrystaat is dat dié provinsie nie daarin kon slaag om finansiële onreëlmatigheid aan bande te lê nie.

Onreëlmatige uitgawes vir die laaste boekjaar beloop R2,2 miljard.

Die departemente van polisie, paaie en vervoer was met R1 miljard vir byna die helfte van hierdie uitgawes verantwoordelik.

Die OG het ook ses gevalle gevind waar vir dienste en produkte betaal is wat nie gelewer is nie. Wesenlike onreëlmatighede, wat agterstallige skuld, waarde vir geld en gebrekkige salarisstelsels insluit, het meer as R128 miljoen beloop.

Die gebrek aan politieke en administratiewe leierskap is duidelik. Dit blyk uit die feit dat die provinsie se tesourie, wat as voorbeeld vir ander departemente moet dien, se oudituitkomste ook verswak het.

Die ANC se gewoonte om niemand verantwoordbaar te hou vir die provinsie se finansiële onreëlmatighede nie, kos die provinsie elke jaar honderde miljoene rand.

Vrystaters verdien ʼn regering wat politieke en administratiewe leierskap aan die dag lê en nie die publiek se belastinggeld verkwis nie.

*Persverklaring