Ina Bonnette is ‘n finansiële adviseur, ma, motiveringspreker en oorwinnaar. Sy is óók die vrou wat marteling, bende-verkragting en die dood van haar seun aan die hande van haar toe vervreemde eggenoot, Johan Kotzé, oorleef het.
Ina weier om ‘n slagoffer van die “Modimolle-monster”, soos die media Kotzé destyds gedoop het, te wees en 10 jaar later floreer sy op genade.
Ina het met FiND iT in ‘n in-diepte onderhoud oor die lewe ná trauma, hoe jy aangaan na die dood van ‘n kind, veroordeling en teleurstellings, gepraat.
Kyk hier na deel een:
Dogter was ook geoormerk
Ina is op 3 Januarie, 2012, deur Johan Kotzé na sy huis genooi om die “egskeiding te bespreek”, waarna hy haar gemartel het, haar liggaam ongenadiglik geskend het, haar deur drie mans laat verkrag het en toe haar seun, Conrad (19), doodgeskiet het. Kotzé het beplan om dieselfde met haar dogter, Angelique (toe matriek) te doen. Sy beskryf in die boek hoe Angelique dit met minute vrygespring het.
Ina het nege jaar aan haar boek, ‘n Verhaal van genade en genesing, geskryf en nou is dié boek, From victim to victory, eersdaags in Engels beskikbaar.
Marteling aan die hand van iemand wat haar “liefhet”
Ina vertel in hoofstukk 7 van die gruwelike aanval en gee grafiese besonderhede van hoe Kotzé spykers in haar borste gedruk het, haar geslagsdele met ‘n tang afgesny het, terwyl hy vir haar sê “hoe lief hy haar het”.
Kyk hier na deel twee:
Na die aanval en moord op haar seun, moes Ina as ‘n slagoffer van dié misdade, onbeskermd huis toe gaan en in vrees lewe. Sy beywer haar nou, met die verkoop van haar boeke, om slagoffers van geweld teen vroue, by te staan. “As my boek iemand kan help om ‘n beter keuse te maak as wat Ina ooit gemaak het, gaan ek al daai fondse gebruik en dit aanwend vir slagoffers. Want ek weet, daai aand wat ek gepak het, het ek nie eens skoene gepak nie, want jy is nie by jouself nie. Jy is in hierdie trant. Die volgende oggend toe ek moes polisiestasie toe gaan, toe het ek nie eens skoene om aan te trek nie, ek is kaalvoet polisiestasie toe. En dis waarvoor ek hierdie fondse gebruik: hier is vir jou ‘n tandeborsel, hier is vir jou klere, hier is vir jou ietsie, gebruik dit.”
Stap uit – al is dit net met die klere aan jou lyf
Sy sê vroue wat uit ‘n narsistiese verhouding of huwelik stap, moet bereid wees om dit te doen “met slegs die klere aan jou lyf”. Syself het dit twéé keer gedoen, die tweede keer met onherroeplike gevolge.
Kon dit gekeer word? Ina reken nie sy of haar ouers het ooit besef watter “demoon” Kotzé is nie.
Sy vertel in die onderhoud met FiND iT hoe ‘n vrou haar gekontak het terwyl sy in ‘n verhouding met Kotzé was. Sy glo dié vrou wou haar waarsku, maar Kotzé het die vrou se naam en nommer op haar lessenaar gesien en die gedagte om haar terug te bel, net daar stopgesit. “Ek wens mense wil net oor die bruggie kom om te dink ons meng in. My ma en my pa moes gepraat het, maar hulle het stilgebly, omdat hulle gehoop het ek gaan gelukkig wees. Moenie stilbly nie. Praat. Maak dit bekend.”
Sien haar seun se gesig in die wolke
Die skryf van die boek, wat nege jaar geduur het, het die haat in Ina stilgemaak. Ina vertel van die 23ste Maart 2013 toe sy haar seun se gesig in die wolke gesien het en haar lewe het verander. Dié foto is ook in die boek. Sedertdien is sy baie ingestel op die spirituele en ervaar sy vrede om haar. So ook vertel sy hoe sy deur die marteling en aanslae op haar lyf, gevoel het hoe “God my uit my lyf uitneem en ek het die gebeure van bo aanskou”.
Ina moes na die aanval en moord op haar seun, van familielede hoor hoe sy dit “verdien” het en sy glo Kotzé het kenisse en familielede steeds gemanipuleer. Die oomblik toe regter Bert Bam op 15 Julie 2013 Kotzé en sy mede-beskuldigdes skuldig bevind het, was haar dankbaarheid onbeskryflik, want toe wéét sy die regstelsel glo haar.
Kotzé het intussen na Ina uitgereik en vir haar ‘n brief geskryf, waarin hy sê hy “weet” die “voorval” het haar lewe “negatief” beïnvloed. Sy is daarna deur ‘n sielkundige van die tronk gevra om hom te ontmoet, wat sy geweier het. Ina glo Kotzé het geen berou nie en doen dit slegs om ‘n merkie te kry wat in sy guns vir sy parool sal tel. Selfs toe die “tronke gedurende Covid oopgemaak is” het sy gebel om seker te maak hy sít nog.
- Kotzé en Andries Sithole is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Conrad en 10 jaar vir ontvoering. Hul medebeskuldigdes, Pieta Mohlake en Sello Mphaka, is op die moordklag vrygespreek. Al vier is egter skuldig bevind aan ontvoering, en ook skuldig bevind op vier aanklagte wat verband hou met die verkragting van Ina Bonnette.
Ina bedank veral vir Sas Klopper, haar uitgewer van die Engelse uitgawe van haar boek, Joanita Fourie, fotograaf, Rhona van Niekerk, kliniese sielkundige en kriminoloog, prof. Christiaan Bezuidenhout, professor in kriminologie aan die Universiteit van Pretoria, Stanley Cierenberg, vir sy gedigte, Lozanne Pienaar en Herman Steyn, fotograwe, Zelda Oberholster, Jana van der Merwe en Joanita Fourie, vir die hulp met vertaling.
As jy Ina direk wil kontak of ‘n kopie van die Engelse boek, From victim to victory, solank vooruit wil bestel, stuur ‘n e-pos aan [email protected]. Fotokrediet: Lozanne Photography.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel. As jy jou eie storie het om te vertel, stuur ‘n e-pos aan [email protected].



