Man sterf twee dae na troue

Deel hierdie storie / Share this story

Slegs twee dae na Pieter Jones (32) vir sy vrou, Yvette, ‘n verrassingstroue gereël het, het hy Sondag weens ’n hartaanval gesterf.

Die paartjie is Vrydag 20 Augustus by Event City getroud en het Saterdag na Mount Amanzi (Hartbeespoortdam) vir hul wittebrood vertrek.

“Yvette het nog Sondagoggend vir my vertel dat hulle die dag net rustig gaan deurbring en dan Maandag bietjie gaan rondry.

“Omstreeks 16:00 het Yvette my histeries gebel en gesê die personeel is besig om mond-tot-mond-asemhaling te doen,” vertel haar ma, Debbie.

Kort daarna, met die ambulans se aankoms, is Pieter dood verklaar.

“Pieter het die troue haarfyn beplan en Yvette het eers die Vrydagmiddag 12:30 gehoor sy trou toe sy die huwelikskontrak teken.

“Haar rok was klaar betaal en Pieter het selfs gereël dat haar hare en grimering gedoen word. Sy het nog Vrydagoggend gedink dit is vir ’n familiefotosessie!”

“Die beste, perfekste dag ooit!!!! Vanoggend gehoor ek trou vandag!! My man het ons hele troue beplan, ek het nie n vinger gelig nie. Beste verrassing ooit! Dankie my liefie, alles was net perfek! Jy is sooo special ❤️ Baie lief vir jou,” het Yvette die oggend van die troue op haar Facebook-blad geskryf.

Volgens Debbie het Pieter en Yvette beplan om te trou, “maar toe kom Covid. Daarna het hulle besluit om Desember in Mosambiek te trou.”

Pieter het glo ’n ruk gelede ernstige infeksie in sy longe gekry en was vir ’n maand aan ’n asemhalingsmasjien (ventilator) gekoppel.

Hy is sowat ’n maand gelede ontslaan en het twee weke later besluit om ’n verrassingstroue te reël.

Pieter en sy broers, Stanley en Martin, was onafskeidbaar en die drie broers het verlede Woensdag saam gaan gholf speel.

“By die vyfde putjie het hy nie lekker gevoel nie en hulle het Yvette gebel. Sy het hom dokter toe geneem en is hy op aarvoeding gesit.

“Teen Donderdag het hy egter baie beter gevoel,” sê Debbie.

Die paartjie het ‘n tweejarige dogtertjie, Livia, wat aanvanklik by Debbie sou gebly het terwyl haar ma en pa op hul wittebrood is, maar hulle het besluit om haar saam te neem.

“Ek is so bly hy kon nog daardie tydjie saam met klein Livia deurbring.”

Debbie vertel Pieter sal onthou word vir sy fyn sin vir humor en dat hy altyd vol grappies was.

Pieter word oorleef deur sy vrou Yvette, dogter Livia, sy ma Dorothy, broers Stanley en Martin, skoonsusters en skoonfamilie.

Die begrafnis is Donderdag om 11:00 uit die Hervormde Kerk, Noord-gemeente.