Niks oor na brand familie se plaas vernietig

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Familie van Nylstroom sit nou in sak en as ná ‘n brand op 18 Augustus alles op hulle plaas vernietig het.

Janita van der Walt, dogter van die egpaar aan wie die plaas behoort, het op Facebook en ‘n Back a Buddy-veldtog vertel haar ouers net nou net die klere aan hul lyf oor na die brand op die plaas JB Game Ranch uitgebreek het.

“Hierdie boodskap word met ‘n swaar hart getik,” skryf sy. “My ouers, Jan en Annamarie Botha, het op 18 Augustus alles verloor deur ‘n vuur op hulle plaas op die Jasper-pad in Nylstroom.”

“Die vuur het van die munisipaliteit se grond af gekom en omdat daar nie ‘n brandpad of enigiets in plek was, na boere in die omgewing hoeveel keer gekla het oor die munisipaliteit se grond en die informele nedersetting wat daarop gekom het nie, het die vuur deur die heining, oor een brandpad, die hele plaas verwoes. Daar is níks. My ouers het die klere wat hulle aangehad het.”

Janita se seun, Janrich van der Walt, was ten tye van die brand saam met sy oupa by die plaashuis. Janita, haar ma en haar dogter was by ‘n hokkiewedstryd. Janrich het vreesloos en dapper na sy oupa in die brandende huis gaan soek toe hy besef die huis brand. “Hy moes uitkruip na die rook en hitte te erg was,” skryf Janita. “Sy oupa was reeds buite na die huishulp, Maria, hom uit die brandende huis gehelp het, aangesien hy met ‘n voetwond bedlêend was.”

Janita vertel Janrich het met haar pa en die huishulp met ‘n Polaris-karretjie deur die vlamme na veiligheid gejaag.

“Ons twee werkers het gehelp waar hulle kon en die Pajero weggesleep, maar hy het reeds skade gehad en begin smelt.”

Sy vertel Chris, een van die werkers, het die trok aan die gang probeer kry, maar die vuur het hom ongelukkig oorweldig en hy het brandwonde opgedoen.

“Die veld, wild, onthaalsaal, motorhuise, opwaskamer, hoofhuis, trofeekamer, lapa, boma, tweede huis, tien chalets, winkel, speletjieskamer, derde huis, vierde huis, klubhuis en kombuis, konferensiekamer, gholfbaan en weiding, trok, motors, meubels, klere, het alles afgebrand tot niks, daar is niks, nie eers ‘n enkele kombers of bed nie. Selfs ons troeteldiere het doodgebrand.”

“Ons is bitter dankbaar dat almal veilig is en baie dankbaar vir die werkers se hulp. Almal is deur geweldige trauma en my ouers is gebreek. Hulle hele lewe se harde werk, 21 jaar se opbou en aanbou, mooi maak, verbeter, instandhouding, hulle drome en trots, is alles weg.”

“Ons wil vir almal baie dankie sê vir hulle hulp en bystand, ons waardeer elke liewe dingetjie! Almal is welkom om my te kontak vir navrae 0833111004.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel