Die vierde geval van aappokke is pas aangekondig.
Joe Phaahla, minister van gesondheid, het bevestig ‘n vierde geval van aappokke is deur laboratoriumtoetse by ’n 28-jarige man in die Wes-Kaap geïdentifiseer.
“Die pasiënt het ’n reisgeskiedenis na Spanje waarna hy in die tweede week van Augustus na Suid-Afrika teruggekeer het. ‘n Polimerase kettingreaksie (PKR) toets is uitgevoer en die monsters is by die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) vir verdere ontleding ingedien,” lui ‘n persverklaring wat vandag uitgereik is.
“Reaksiemaatreëls vir openbare gesondheid om die verspreiding van die infeksie te voorkom, insluitend kontakopsporing, is ingestel.”
Die vierde geval volg op drie onverwante laboratorium-bevestigde aappokke-gevalle wat onderskeidelik in Gauteng, Wes-Kaap en Limpopo aangemeld is. Hierdie gevalle is aangemeld by mans van 30, 32 en 42 jarige ouderdom wat sedertdien in selfisolasie was, sonder om verdere simptome en gesondheidskomplikasies aan te meld.
Phaahla sal Vrydag meer besonderhede verskaf oor die regering se reaksie op aappokke.




