‘n Verdagte is gearresteer tydens die herwinning van ‘n gekaapte vragmotor-voorhaker en tenkwa op die pad tussen Standerton en Vrede op Woensdag 3 Augustus.
Kasselman- en Sipru-sekuriteitsmaatskappye het verskeie rolspelers bedank vir hul bystand.
Na bewering was ‘n bestuurder met sy vragmotor en tenkwa, vergesel deur ‘n sekuriteitsondersteuningsvoertuig met twee wagte op pad toe hulle deur kapers voorgekeer is. Die bestuurder het probeer wegkom, maar het ‘n silwer Ford Everest met blou ligte agter hom gesien.
Hy het die vragmotor tot stilstand gebring en uitgespring.
Alhoewel die sekuriteitswagte in die ondersteuningsvoertuig ondersoek wou instel, is hulle deur gewapende verdagtes in polisie-uniforms oorval.
Die eienaar van die vragmotor kon op die kajuitkamera sien dat daar fout was en het dadelik met sy opsporingsmaatskappy kontak gemaak wat beide Sipru- en Stratcon-maatskappye gekontak het. Dit is in hierdie stadium wat Sipru verskeie rolspelers geaktiveer het. Dit sluit boere, sekurtiteitsmaatskappye soos APM, KSS-gemeenskapspatrollie, die polisie van Vrede, Betlethem, en Standerton, die vlieëniers van twee vliegtuie sowel as ‘n helikopter en hommeltuie in, wat sonder skroom op die hulproep reageer het.
Die bestuurder en sekuriteitswagte is vasgebind, agter in die Everest geboender en daarna elders in ‘n veld gelaat.
Hulle kon daarin slaag om na ‘n hoofpad te beweeg vir hulp, waar hulle later met slegs ligte beserings gekry is.
Die gekaapte tenkwa is eerste teruggekry en die voorhaker ongeveer 14 km verder, asook die sekuriteitsvoertuig. Ongeveer nog 20 km verder is die ander voorhaker wat die verdagtes wou gebruik om die tenkwa mee te haak, teruggekry. ‘n Verdagte is hier gearresteer.
Die vlugtende verdagtes in die Ford Everest wat probeer vlug het, het hulself op ‘n plaas vasgery en moes te voet verder vlug. Hier is ‘n AK-47-aanvalsgeweer en ‘n Uzzi 9 mm- outomatiese handwapen gevind.
Hittesensoraparate is gebruik om die area te skandeer.
Die polisie het beslag gelê op die twee vragmotor-voorhakers, die tenkwa, sekuriteitsvoertuig, Ford Everest, ‘n AK-47, en die Uzzi 9 mm. Op 5 Augustus het ‘n boer van die omgewing nog ‘n vuurwapen op sy plaas gekry wat vermoedelik ook tydens die voorval deur die verdagtes gebruik is.
Volgens kapt. Gibi Mtseni, polisiewoordvoerder van Standerton, word die saak deur beide Vrede- en Standerton-polisielede ondersoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



