Solidariteit veroordeel beplande MTN-afleggings ten sterkste

(Foto: News24)

(Foto: News24)

Solidariteit het vandag MTN se planne om ʼn afleggingsproses van stapel te stuur, ten sterkste veroordeel. MTN se kennisgewing kom nadat dié maatskappy in die jongste finansiële jaar ʼn wins van sowat R14 miljard aangedui het en al sy teikens oortref het.

Volgens Solidariteit tree MTN se bestuur gevoelloos en immoreel op deur afleggings aan te kondig terwyl die maatskappy se finansiële syfers so ʼn reusesukses toon.

“MTN is besig om immoreel op te tree teenoor sy werknemers, en in tye waarin inflasie en brandstofpryse die hoogte in skiet, en selfs mense wat gelukkig genoeg is om ʼn werk te hê sukkel om kop bo water te hou, is die maatskappy besig om met mense se lewens te speel. Om so ʼn wesenlike getal van jou werksmag in die pad te steek ten spyte van miljarde se winste wat selfs sy eie verwagtinge oortref het, skets ʼn skreiende prentjie van die Suid-Afrikaanse samelewing en die rol wat groot ondernemings soos MTN daarin speel,” meen Linda Senekal, netwerkkoördineerder vir Solidariteit.

Solidariteit is verder van mening dat dit moeilik is om hierdie afleggings deur ʼn ander lens te sien as een wat deur MTN se beoogde Telkom-oorname gekleur word.

“Wat MTN met sy werknemers probeer doen, is eintlik onwettig. As MTN voorsien dat daar duplisering van rolle gaan plaasvind indien hy wel Telkom sou koop, dan moet hy dit ingevolge die voorgeskrewe artikel 197-proses hanteer. Hy kan nie wegkruip agter die skyn van ʼn gewone afleggingsproses nie,” sê Senekal. “Werknemers en hulle afhanklikes se lewens is op die spel, maar MTN se bestuur het nie begrip hiervoor nie.”

Solidariteit beklemtoon ook dan sy deurlopende ondersteuning aan sy lede wat deel uitmaak van die MTN-werksmag, en dat hulle ingevolge arbeidswetgewing die organisasie se volle ondersteuning sal geniet.

“Daar is geen kans dat ons lede by MTN aan die noodlot oorgelaat sal word nie – nie terwyl selfs werkende Suid-Afrikaners daagliks verarm nie. Dit sal noodlottig vir dié werknemers wees indien MTN se afleggings ongedaag sou voortgaan. MTN behoort van beter te weet, en hy behoort by bestaande regulasies te hou terwyl sy werknemers se welstand in ag geneem word. MTN mag dit nie verontagsaam en dit probeer toesmeer deur vir sy werknemers te sê ʼn betekenisvolle konsensus sal bereik word terwyl die afleggingsproses reeds aan die gang gesit is nie,” sluit Senekal af.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.