Inwoners van Kimberley het ‘n maand of wat gelede besluit om in te spring om die stad weer blink te poets na jare se verval en agteruitgang.
Ons gesels ‘n bietjie met Sanet Gouws, ‘n onlangs afgetrede juffrou van die stad, oor haar besluit om die Bring Back the Sparkle-projek te begin en hoe hulle in ‘n maand gegroei het tot meer as 40 lede.
“Ek het in Kroonstad grootgeword. Ek het my hele lewe lank daar gebly en was redelik volwasse toe ek daar weg was,” vertel sy. “Die dorp het oor die jare baie verval en agteruitgegaan en ek het op ‘n Facebook-blad afgekom van ‘n groep wat ook besluit het om in te spring om die stad weer in ere te herstel.”
Sy vertel sy het die herstelproses en die projekte op Facebook dopgehou tot sy een dag vir ‘n vriendin gesê het sy wens iemand kan dit in Kimberley ook doen. “My vriendin het gevra: ‘Hoekom begin jy dit nie?'”
Sanet vertel sy het vir ‘n paar dae oor die idee gedink en later besluit om dit ‘n werklikheid te maak.
“Ek het gedink aan die drie faktore wat moet saamwerk om van so ‘n projek ‘n sukses te maak.”
“Eendag het ek ‘n video op Facebook gesien van iemand wat hier iewers in die stad slaggate regmaak en ek het besluit om hom ‘n ‘inboks’ te stuur. Ek het hom van die idee vertel en vir hom gesê ek kan dit nie alleen doen nie. Hy het vir my gesê hy hou van die idee en ons het ontmoet en daaroor gesels.”
So is die idee in ‘n realiteit omskep en het die groep nou al die stasie in Kimberley weer mooigemaak.
Gouws vertel hulle beplan groot dinge vir die toekoms en hoop dat meer inwoners by die projek betrokke sal raak.
Kontak haar by 068 543 0022 indien jy wil betrokke raak.


