‘n Manlike onderwyser by Laerskool Fred Margadie in Eersterust in Pretoria, wat ‘n senior pos beklee, word daarvan aangekla dat hy sy kollegas en leerders aangerand het.
Die tydlyn van aangemelde sake teen die onderwyser, soos gerapporteer deur ‘n organisasie genaamd Rea Thusa We Help, dateer so ver terug as 2019 toe hy by die skool aangestel is.
“In 2019 is ’n vroulike leerder by die skool deur die senior onderwyser geslaan. ’n Polisiesaak is geopen, maar tot op hede het niks daarvan gekom nie, al is (die onderwyser) deur die Gautengse onderwysdepartement skuldig bevind en gelas om ’n boete te betaal. Op 3 Mei 2022 het hy na bewering ‘n voormalige waarnemende skoolhoof by die skool aangerand deur haar gewelddadig aan die hand te gryp, haar te skud en op haar in haar kantoor voor ‘n ander onderwyser te skree,” het Rea Thusa We Help gesê.
Op 18 Mei is ‘n gr. 7-leerder glo ook deur die onderwyser aangerand. Daar word beweer dat hy die leerder uit sy stoel getrek het, hom op sy rug geslaan en teen die deur gedruk het.
Dié saak is by die departement aangemeld. In nog ’n voorval op 20 Julie het dieselfde onderwyser glo ’n vroulike kollega aangerand, ook deur haar aan die hand te gryp en gewelddadig te skud.
’n Saak is by die plaaslike polisiestasie geopen en die aangeleentheid is by die amptenaar van Institusionele Ontwikkeling en Ondersteuning en die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders aangemeld. Gister het ‘n ouer, wat nie genoem wil word nie, gesê hy glo daar is ander sake teen die opvoeder.
“Die man word deur distriksamptenare en die departement as geheel beskerm. Daar is ‘n onderwyser wat gekla en ‘n saak teen hom gelê het, maar niks is teen hom gedoen nie,” het die ouer aan die Pretoria News gesê.
“Die distrik wou die hele ding onder die mat invee deur die destydse waarnemende skoolhoof te versoek om ‘n verskoningsbrief van die onderwyser te aanvaar,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg die man is deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders skuldig bevind ten opsigte van ‘n saak van aanranding.
“Daar is baie gevalle waar hy leerders aangerand het, en daardie sake is by die raad aangemeld, maar niks is gedoen nie,” het hy beweer.
’n Ma van ’n kind by die skool het gesê: “Ouers is stil, maar bekommerd. Sommige van hierdie ouers word in hierdie stadium deur finansiële probleme in die gesig gestaar en is nie in staat om hul kinders na ander skole te skuif nie.”
Sy het gesê die departement het sielkundiges uitgestuur om die situasie te hanteer, maar leerders was bang en wou nie skool toe gaan nie.
“Skool moet ‘n plek wees waar jou kind veilig is,” het die ma gesê.
Die pa van die onderwyseres het gesê hy het ‘n polisiesaak wat oor sy kop hang nadat hy vir sy dogter opgestaan het.
“Nadat ek skool toe gegaan en my dogter gehelp het om ’n saak by die polisie te open, was daar die volgende dag polisiebeamptes by my huis en hulle het gesê daar is ’n saak teen my omdat ek die skool korrupteer,” het hy gesê.
Hy het gesê hy het deur hoorsê uitgevind wat met sy dogter gebeur het.
“Die aanranding het verlede week Woensdag gebeur en ek het eers Vrydag uitgevind. Ek is toe na die skool en vra vir die hoof. Ek het gevra hoekom die voorval nie by die polisie aangemeld is nie. Die man (die onderwyser wat van aanranding aangekla word) het toe ingekom terwyl ek met die skoolhoof gepraat het. Ek het hom gevra, so groot soos hy is, hoe kon hy my dogter aanrand, en was dit reg? Hy het my nie geantwoord nie. Hy het net die deur toegeslaan en by die kantoor uitgegaan.”
Hy het gesê hy is toe aangesê om die skool se perseel te verlaat.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê die departement is bekommerd oor die aantygings wat teen die opvoeder gemaak is.
“Ons het ‘n ondersoek van stapel gestuur en as sodanig sal die nodige stappe dienooreenkomstig geneem word. Ons veroordeel die beweerde optrede van die opvoeder ten sterkste. Ons het reeds ons psigososiale span na die skool gestuur om die nodige ondersteuning te verskaf.”
Mabona het opvoeders versoek om hulle van alle vorme van wangedrag te weerhou en op leer en onderrig te fokus.
“Opvoeders moet deur voorbeeld lei om te verseker dat leerders hul gedrag weerspieël deur ‘n veilige skoolomgewing te skep wat bevorderlik is vir effektiewe leer en onderrig. Ons sal die situasie dienooreenkomstig fyn dophou,” het Mabona gesê.
Bronne: MSN, Pretoria News, IOL
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: 3 leerlinge dood in KZN-taxi-ongeluk



