Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, sê die ANC sal by sy nasionale beleidskonferensie praat oor ‘n 50/50-verhouding van wit en swart leerlinge in Suid-Afrikaanse skole.
Sisulu, voorsitter van die subkomitee oor maatskaplike transformasie van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het Dinsdag gesê dié kwessie sal ‘n besprekingspunt by die nasionale konferensie wees.
“Ons kan nie ‘n eg Suid-Afrikaanse identiteit kweek as ons nie almal in dieselfde soort omgewing skoolgaan en nie dieselfde voordele kry nie,” het sy tydens die nuuskonferensie gesê. “Nee, dit sal nie gebeur nie. Iewers moet ons begin en sê ons is een volk. Dis wat die vryheidsmanifes sê.”
Sisulu sê dis die ANC se taak om rassisme deur beleid en praktiese implementering te beveg en dat kinders nie kleur sien nie; dit word op hulle “afgedwing”.
Sy sê wanneer mense saam grootword, hulle maklik ‘n band vorm en mekaar verstaan.
Die VF Plus het ná Sisulu se voorstel na haar gekap en dié voorstel verwerp.
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese onderwys, sê die besluit wys tot watter mate die ANC besig is om tred met die werklikheid te verloor.
“In ‘n land waar meer as 80% van die bevolking swart en minder as 9% wit is, kan skole nie om die helfte bevolk word nie – tensy die bedoeling is dat party skole oorwegend swart mag wees, maar geen skool oorwegend wit nie,” sê hy.
“Met hierdie uitspraak wys Sisulu opnuut dat Suid-Afrika in 2024 die stembus moet gebruik om van die ANC ontslae te raak. Daar is immers geen verbetering sonder verandering nie.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



