Die liggaam van ‘n sesjarige seuntjie is Maandag in die bosse in Gqeberha gekry. Die polisie vermoed die moordenaar het die seuntjie vermoor om sy eks-meisie terug te kry na hulle uitmekaar is.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê ‘n 33-jarige man het hom Maandag aan die polisie oorhandig na die moord op sy eks-meisie se seuntjie, Thabang Klaas.
“Volgens inligting tot die polisie se beskikking, het die verdagte die seun uit sy ouma se huis in New Brighton geneem en na die bosse tussen Mathys Grounds en Wells Estate gevat, waar hy hom verwurg het.”
Die seun se liggaam is langs ‘n voetpad in die bosse gevind.
“Die verdagte is nou in aanhouding en die motief agter die moord is vermoedelik wraak teen sy eks-meisie,” sê Naidu.
Die ondersoek duur voort en die verdagte sal Woensdag in die Gqeberha-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



