Hennie Venter se vermeende moordenaars vas

Deel hierdie storie / Share this story

Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, het die ondersoekspan geloof vir die deurbraak wat gemaak is in die gruwelike moord op Hennie Venter (37), van Wildebeeslaagte-hoewe in die Northam-polisiëringsgebied.

Twee mans, albei 34 jaar oud, is in hegtenis geneem nadat Venter op 11 September 2021 as vermis aangemeld is.

Die eerste verdagte is op 17 Julie in Bloemfontein in hegtenis geneem en die ander een op 23 Julie in Northam.

Hulle het Maandag 25 Julie 2022 in die Northam-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Luidens ‘n verklaring deur die polisie is dele van Venter se ontbinde liggaam op verskeie plekke op die hoewe gevind.

Die polisie het vroeër die maand ‘n deurbraak gemaak toe hulle ‘n byl en panga wat moontlik in die moord gebruik is, gevind het.

Die ondersoek is verskerp, wat gelei het tot die ontdekking van sommige liggaamlike oorblyfsels wat vermoedelik dié van die oorledene is.

Die slagoffer was glo bevriend met die vermeende moordenaars en het ten tye van die moord by hulle gekuier. Die motief vir die moord word nog ondersoek

“Dit is een van die skokkende voorvalle wat ons in die Limpopo-provinsie gesien het en ek loof die ondersoekspan onder leiding van kapt. Du Plessis van Northam-speureenheid vir die noukeurige ondersoeke wat gelei het tot die daaropvolgende arrestasie van die verdagtes.

Ons hoop geregtigheid sal geskied vir die slagoffer en almal wat geraak word,” het lt.genl. Hadebe afgesluit.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel