Iowa-skietery: Kind en ouers doodgeskiet terwyl hulle kamp

Deel hierdie storie / Share this story

’n Sesjarige meisie en haar ouers is doodgeskiet terwyl hulle in die Amerikaanse deelstaat Iowa gekamp het, het die polisie gesê.

Die liggame van Sarah en Tyler Schmidt, albei 42, en hul dogter Lula is in hul tent in die Maquoketa Caves State Park gevind.

Die egpaar se negejarige seun het die aanval oorleef, het ‘n buurman gesê. Die polisie glo die vermeende skieter, ‘n 23-jarige man, het na die moorde sy eie lewe geneem. Sy liggaam is ook in die park gevind.

‘n Ondersoek na die voorval is aan die gang, en die Maquoketa Caves State Park is ‘n aktiewe misdaadtoneel, volgens ‘n verklaring van Mitch Mortvedt, assistentdirekteur van die Iowa-departement van kriminele ondersoek.

Mortvedt het aan die plaaslike koerant, The Des Moines Register, gesê daar was geen berigte van ‘n vroeëre onderonsie tussen die verdagte en die slagoffers nie.

Die vermeende skieter is geïdentifiseer as Anthony Orlando Sherwin, wat ook by die kampplek gebly het.

Die slagoffers se liggame is Vrydagoggend gevind en nooddienste is om 06:23 plaaslike tyd (12:23 BST) ontbied.

Die park is ontruim, en Sherwin, wat bekend was dat hy gewapen is, is vermis. Ná ’n lugsoektog is sy liggaam ook in die park gevind, ’n ent van die kampterrein af.

Plaaslike amptenare het gesê lykskouings sal op al vier die liggame uitgevoer word. Die park sal na verwagting tot minstens Donderdag gesluit wees.

Bronne: BBC, Yahoo, Daily Mail

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Skok toe huiseienaar liggaam langs sy heining ontdek