‘n Bus wat leerders Saterdag van ‘n skool na ‘n winterkamp vervoer het, het aan die brand geslaan.
Elias Malindi, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, het dié nuus aan FiND iT bevestig.
Die private bus het 20 leerders van Sekondêre Skool Letsatsing vervoer toe dit in Mmabatho naby Mahikeng aan die brand geslaan het.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Die leerders het glo die winterkampe by Sekondêre Skool Mosikare in Mantsha Village bygewoon.
Volgens Malindi het die bus aan die brand geslaan toe die bestuurder besig was om die leerders weer by hul huise af te laai.
“Namens die Noordwes-departement van onderwys is ek opreg dankbaar dat daar geen beserings aangemeld is nie. Die doel van ons winterkampe is om die prestasie van ons leerders te verbeter.
“Ons wil ‘n beroep op al ons busoperateurs doen om uiters waaksaam te wees wanneer hulle leerders vervoer. Hulle moet verseker dat hul busse padwaardig is en hulle aan die padreëls voldoen,” het die LUR van onderwys, Matsdmela Matsemela gesê.
Die departement het berading vir al die betrokke leerders vir Maandag 18 Julie 2022 by Sekondêre Skool Letsatsing in Mahikeng gereël.



