Lede van die publiek het Woensdagoggend tevergeefs probeer om ‘n babatjie van ses dae oud aan die lewe te hou voor paramedici op die toneel opgedaag het.
Shawn Herbst, woordvoerder vir Netcare 911, sê Netare 911 het omstreeks 09:39 Woensdagoggend ‘n oproep gekry oor ‘n bewustelose persoon in Hellodorstraat in Tshwane.
“Toe paramedici op die toneel aankom, was lede van die publiek besig om CPR op ‘n pasgebore babatjie toe te pas,” sê Herbst. “Netcare 911-lede het dadelik oorgeneem.”
Herbst sê volgens die publiek het ‘n sakkrapper die babatjie, toegedraai in klere binne-in ‘n plastieksak, in ‘n asdrom in die straat gevind.
“Ten spyte van paramedici se beste pogings om die babatjie aan die lewe te hou, is die baba na ‘n rukkie op die toneel dood verklaar.”
Die polisie sal nou die omstandighede ondersoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



