’n Pa en seun, Cornelis Johannes Uys (60) en Cornelis Johannes Albertus Uys (23), is op 4 Julie in die Belfast-landdroshof borgtog geweier en is steeds in aanhouding nadat hulle op 3 Julie vir vermeende mensehandel gearresteer is.
Dié arrestasie het gevolg nadat twee ander verdagtes, Carlos Bernardo Guambe (34) en Gabriel Bernardo Guambe (32) op 24 Junie vir mensehandel gearresteer is, berig Krugerdorp News.
39 persone, insluitend sewe vroue, nege kinders onder die ouderdom van vyf en 23 mans oor die ouderdom van 18 is van ‘n plaas op Dullstroom gered tydens ‘n multidissiplinêre operasie deur lede van Nelspruit se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, die blitspatrollie, departement van arbeid en binnelandse sake.
Die slagoffers van Mosambiek is glo per taxi na Suid-Afrika se grens vervoer met ‘n belofte van beter werksgeleenthede.
Hulle moes glo deur ’n rivier na die oorkant na Suid-Afrika swem voordat hulle met ‘n taxi na Lydenburg geneem is.
Die seun van ‘n plaaseienaar en een handelaar het na bewering die taxibestuurder ontmoet en geld aan hom betaal in ruil vir die Mosambiekers wat vir arbeid op die plaas gebruik sou word.
Verdere ondersoek het na bewering aan die lig gebring die twee verdagtes is ook onwettig in die land.
Die slagoffers is gered en na ‘n plek van veiligheid geneem.
Die twee verdagtes, die Guambe-broers, is van mensehandel en bykomende aanklagte van die Wet op Oortreding van Onwettige Immigrasie aangekla en het verlede week saam met die Uys-duo in die Belfast-landdroshof verskyn.
Die saak teen die vier is tot 11 Julie vir formele borgtogaansoek uitgestel en hulle bly in aanhouding.



