FLAVOUR Festival: ‘n Eerste vir Kimberley!

Deel hierdie storie / Share this story

Na die eerste suksesvolle FLAVOUR Festival wat die afgelope naweek by die Bella Cardi Venue in Kimberley plaasgevind het, deel ons graag ‘n paar foto’s van hoe lekker die atmosfeer daar was.

Beefmaster en Malu Pork het hard gewerk aan die voorbereidings vir die suksesvolle fees.

Lana van Reenen, handelsmerk- en kommunikasiebestuurder by Beefmaster, vertel beide Beefmaster en Malu wou ’n geleentheid in Kimberley skep waar hulle produkte op ’n spesiale manier aan die publiek ten toon kan stel. “En toe besluit ons, hoekom nie ook ander produsente en verskaffers dieselfde geleentheid gee nie? Ons wil mense ’n unieke kos-ervaring gee en verskaffers die geleentheid gee waar die besonderheid van hul produk gewaardeer kan word. Alles het goed in plek geval…”

Sy vertel die FLAVOUR Festival was ’n geleentheid wat deur Beefmaster en Malu aangebied is. “Daar was 25 uitstallers wat met die hand uitgekies is op grond van die oorspronklikheid van hul produk, aanbieding en kwaliteit daarvan. Hulle het ekstra moeite gedoen om smaaklike proe-happies (en slukkies) aan die feesganger te gee.”

Sy sê wat die organisering van die fees behels het, was dit uitstekende spanwerk tussen Beefmaster en Malu Pork.

“Die terugvoer ontvang is uiters goed en daar word reeds gevra wanneer die volgende FLAVOUR-fees sal wees,” vertel sy. Al wat sy van die volgende fees kan verklap, is dat dit feesgangers se verwagtinge heeltemal sal oortref.

Sy sê die plan is om die fees ‘n jaarlikse instelling te maak.

Die FLAVOUR Festival was ‘n dag vir die hele gesin en kaartjies het kosdemonstrasies deur Pete Goffe-Wood, optredes deur Reën en Jan Rhaap, asook die proe van ‘n verskeidenheid van drankies en kos ingesluit.

Kinderkaartjies het roomys, spookasem, springmielies, koeldrank en kos ingesluit.

Daar was die lekkerste eetgoed, ‘n reuse verskeidenheid drankies te proe en te koop, en die vermaak was baie spesiaal!

“Ons is baie gelukkig met die resultate en is opgewonde oor wat die toekoms hiervan sal wees.”