Na die laaste skokkende episode van Op My Eish! 2 wat Donderdagaand uitgesaai is, gesels ons ‘n bietjie met Claudia Hermann, ‘n naeltegnikus van Centurion wat tot die laaste rondte van die pasmaatreeks deurgedring het.
Sy en Leyla van Greuning was saam met Nykie Pretorius die drie laaste dames wat ‘n kans gehad het om Francois Jacobs se hart te wen. Tot Francois die aand voor die laaste dag vir Nykie by sy kamer ingenooi en hulle saam op sy bed aan die slaap geraak het… Toe Claudia en Leyla die volgende oggend daarvan hoor, was hulle reaksies heeltemal verskillend.
Leyla was oop en eerlik met Francois oor haar gevoelens en hoe teleurgesteld sy was. Claudia vertel sy wou daardie dag net opstaan vir al die meisies wat aan die reeks deelgeneem het. “Ek is iemand wat opstaan vir die mense vir wie ek lief is. Ek het daardie dag opgestaan vir die ander meisies en ek het myself in daardie posisie gesit om daar te wees vir almal. Ons het almal vir die regte redes ingeskryf en was natuurlik kwaad en ontsteld oor wat gebeur het.”
Sy vertel omdat die reeks al meer as 13 weke gelede geskiet is, het hulle almal al intussen vrede gemaak met mekaar. “Kyk, ons is almal mos maar grootmense. Ons is nou ‘n groep vriendinne en video call gereeld en kuier gereeld saam.”
Een van die redes waarom Claudia op sosiale media geboelie is, is haar unieke lag. Sy vertel sy is op skool reeds oor haar lag geboelie en om dit alles weer te moes herleef, het ou wonde oopgekrap.
“Mense het van die begin af oor my lag iets te sê gehad. Hulle het gesê ek runnik soos ‘n perd wanneer ek lag. Daar is ‘n verskil tussen net fun maak van iemand en in hulle persoonlikheid en karakter inklim. Weet jy, dit het my eintlik ‘n dik vel gegee.”
“Dit pla my nie eintlik nou meer so baie nie. Ek het net weereens besef hoe sterk ek is. Mense besef nie hoe erg boelies is nie. Daar is mense wat geboelie word wat later aan depressie ly, hulleself wil verander of later selfs selfdood pleeg.”
Sy sê haar ervarings inspireer haar nou om moontlik eendag ‘n spreker by skole te wees en op dié manier ‘n stem te wees vir mense wat geboelie word. “Ek wil graag opstaan vir sulke mense. As ek ooit die geleentheid kry, sal ek by skole wil praat, want dis by skole wat ‘n geboeliery gewoonlik begin. Ek wil ‘n stem wees vir sulke mense.”
Sy sê die deelnemers het ook ‘n mediaspan wat hulle deur die hele reeks gehelp en ondersteun het en nogsteeds doen.
Sy sê sy wil graag vir die haters dankie sê. “Ek is nou ‘n baie sterker mens as wat ek aan die begin was. En met die volgende seisoen, wanneer mense praat van die meisie wat so snaaks gelag het, sal hulle my onthou sonder dat ek probeer.”
Daar was darem ook nie net slegte kommentaar nie en Claudia vertel sy is ook baie dankbaar vir die ondersteuning wat sy van aanhangers gekry het. Haar gesin was ook deurentyd baie ondersteunend. “Elke keer wanneer ek hartseer of down was, het ek my ma gebel. Sy was altyd daar en het vir my gesê: ‘Clauds, liewe Jesus het jou so gemaak. Moenie toelaat dat hulle jou afbreek nie.”
Sy lag en sê sy sal dalk weer aan ‘n realiteitsprogram deelneem, maar nie sommer weer waar sy teen ander meisies hoef te kompeteer nie.
Die 28-jarige vertel sy is eintlik maar ‘n introvert en toe haar vriendin haar aangepor het om aan die reeks deel te neem, het sy dit as ‘n goeie manier gesien om uit haar “bubble van veiligheid” te kom, die water te toets en dalk iemand te ontmoet.
“Die eerste dag was baie awkward,” onthou sy. “Ons was almal eintlik maar baie ongemaklik omdat ons mekaar nou nog nie regtig geken het nie. Maar toe ons daar in die lapa bymekaarkom en kuier, het ons dadelik geclick.”
Sy sê as sy nou na haarself op televisie kyk, is dit baie “awkward”. “Mens kan sien ek het baie van die lekker kos gehou, want ek het baie gewig opgetel van die begin tot aan die einde,” lag sy. “As persoon glimlag ek ook nogal baie en ek het nie so baie tydens die reeks nie. Ek lyk eintlik nogal bietjie soos ‘n bitch!”
“As daar een ding is wat ek tydens die reeks geleer het, is dit dat jy nie altyd almal se koppie tee kan wees nie. En as jy nie kan nie, dan wees jy ‘n sterk koppie koffie. Want jy is ‘n sterk mens!”
Indien jy of enigeen wat jy ken hulp nodig het, skakel die Suicide Crisis Helpline by 0800 12 13 14.



