Rugbyspeler (21) van Welkom sterf na harde duikslag

Deel hierdie storie / Share this story

Die 21-jarige Jaco Weideman wat Saterdag ernstige beserings tydens ‘n ligarugbywedstryd opgedoen het, is oorlede.

FiND iT het vroeër berig die rugbyspeler van Welkom se hart het moontlik Saterdag ná ‘n harde duikslag gaan staan.

Jaco Weideman was deel van die span wat Saterdag in die jaarlikse rugbyderby tussen Welkom-rugbyklub (WRK) en die Welkom Rovers vir die Welkom-rugbyklub se tweede span gespeel het.

Die WRK het die voorval aan FiND iT bevestig.

Volgens Netwerk 24 het Denise Kirsten, ‘n fisioterapeut van Welkom, gesê Weideman het eers na die wedstryd sleg begin voel.

Hy het glo opgegooi en sy vermoed hy het ‘n hartbesering sowel as hasingskudding opgedoen.

Weideman se hart het in die Mediclinic Welkom gaan staan en hy is Sondag per helikopter na Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Hy was sedertdien kritiek.

Medelye stroom in op sosiale media en Gouties Prestasies het die nuus op Facebook bevestig.

“Die hele Goutie familie is baie hartseer met die afsterwe van Jaco Weideman, oud Goutie. Ons opregte simpatie met Wimpie, Marco, familie en vriende.

Mag ons almal in hierdie moeilike tyd vertroosting vind in die Here se liefde en in Sy wil vir elkeen van ons.”