Vrou van Pretoria gee geboorte by vulstasie

Deel hierdie storie / Share this story

Klein Kaylee Pretorius het ander planne vir haar ouers gehad toe sy op 20 Junie, amper ‘n maand vroeër as beplan, sommer haar toetrede tot die wêreld by ‘n Caltex-vulstasie in Pretoria-Noord gemaak het.

Tasha van Niekerk het in die vroeë oggendure van 20 Junie ’n oproep ontvang om haar dogter, Samantha Pretorius, hospitaal toe te neem. Op pad soontoe het sy gestop vir brandstof, berig Pretoria Rekord.

Samantha se kontraksies het al hoe erger begin word en sy het besef baba Kaylee is op pad. Tasha het geen ander keuse gehad nie as om te moes help met die geboorte van haar eerste kleinkind.

Samantha het gesê sy kon Kaylee se kop voel en ek het op daardie oomblik besef hulle gaan nie betyds by die hospitaal uitkom nie.

“Samantha het op die agterste sitplek gesit, en klein Kaylee het ‘n paar minute later haar verskyning gemaak. Ek het haar met ‘n trui toegedraai en haar op Samantha se bors gesit en toe na die Steve Biko- akademiese hospitaal gehaas,” vertel Tasha.

Sy het besluit om nie die naelstring te knip nie, en eerder vir mediese hulp te wag.

Ma en dogter was albei gesond en is die volgende dag ontslaan.

Samantha sê die geboorte van haar dogter was ‘n seën.

“Ek was so opgewonde om haar te ontmoet, ek het selfs haar naam op die muur geverf,” vertel die nuwe mamma.

Tasha sê haar kleindogter is ‘n seën nadat sy vroeër haar man verloor het.

“Dit was alles die moeite werd. Nadat die adrenalien ingeskop het, kon ek my dogter en kleindogter help. Sy is ’n seën vir ons familie.”

Kaylee het 2.5 kg by geboorte geweeg en was 38 cm lank.