Pretoria-egpaar verkoop baba vir R500

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Egpaar van Pretoria wat hul babaseuntjie vir R500 verkoop het, sal volgende maand hoor wat hul lot is wanneer hulle op 4 Augustus in die Benoni-landdroshof gevonnis word.

Die egpaar, wat nie geïdentifiseer kan word nie, om die identiteit van hul vier kinders te beskerm, is in November skuldig bevind aan kinderverwaarlosing, aanranding en versuim om ‘n kind se geboorte te registreer.

Volgens Krugersdorp News is die vrou ook aan mensehandel skuldig bevind.

Dié egpaar het glo nie hul baba wat in April 2020 gebore is, by die departement van binnelandse sake geregistreer nie.

Die rede hiervoor was om die baba te verkoop en dat die baba nie na hulle teruggespoor kon word nie.

Volgens NVG Noord-Gauteng-woordvoerder, Lumka Mahanjana, het ‘n vrou slegs bekend as Saunders, wat ‘n koswa in Booysens besit het, die egpaar in Julie/Augustus 2020 ontmoet.

Sy het glo eers die man ontmoet waarna hy die volgende dag sy vrou gebring om haar en die baba, wat toe twee maande oud was, aan mekaar voor te stel.

Dit het ook in die hof onder die regter se aandag gekom dat die egpaar die baba verskeie kere by verskillende geleenthede aangerand het.

Die ma sou glo die baba óf na haar werkplek by ‘n kroeg neem óf die pa sou die kind by Saunders se koswa aflaai terwyl hy dronk was.

‘n Dokter wat die baba ondersoek het, het in die hof getuig dat sy op 6 November 2020 ‘n J88- mediese vorm voltooi het, wat verklaar het dat die baba op slegs vyf dae oud kneusplekke aan die kop, bors en regterarm gehad het, sowel as ‘n uitslag op sy boude.

“Die egpaar het afsprake gemis en het eers weke later die kind vir inenting by ’n kliniek geneem sodat die verpleegsters nie die kneusplekke sou sien nie.”

By twee afsonderlike geleenthede het die ouers individueel probeer om die baba aan Saunders te verkoop.

Dit is nadat die pa Saunders eerste genader het en aangebied het om die baba vir haar vir R2 000 te gee en gevra het om saam met haar na die departement van binnelandse sake te gaan om die baba as hare te laat registreer.

Mahanjana het gesê op 3 November 2020 het die ma Saunders genader en aangebied om die baba vir haar te gee teen R2 500 omdat sy haar man en Pretoria wou verlaat.

Die volgende dag, op 4 November, het die pa teruggegaan na die koswa om te hoor of Saunders sy aanbod oorweeg het.

Saunders het hom meegedeel dat sy vrou ook probeer het om die baba vir R2 500 aan haar te verkoop en dis toe dat hy sy prys tot R1 000 verlaag het.

“Op 5 November het die ma van die baba na Saunders gegaan en gevra om te heroorweeg om die baba te koop. Sy het haar aanbod tot R500 verminder.

“Op 6 November het die pa na Saunders gegaan en gedreig om die baba dood te maak as sy hom nie koop nie. Later die dag het die ma ook sonder die baba na die koswa gegaan en toe Saunders gevra het waar die baba is,  het sy vir haar gesê hy is by die huis omdat hy van die bed afgeval het,” het Mahanjana gesê.

’n Inligter wat hierdie interaksies aanskou het, het die saak by die polisie aangemeld.

Die polisie het gereël om die egpaar met die hulp van Saunders vas te trek.

Hulle het Saunders R500 gegee om die baba by die egpaar te koop en die uitruiling het buite die egpaar se huis tussen die ma en Saunders plaasgevind terwyl die pa in die huis was.

Mahanjana het gesê die ma het die geld gevat, vir Saunders die baba gegee en teruggegaan in die huis.

Die polisie het dadelik die perseel binnegegaan, op die geld beslag gelê en die egpaar gearresteer.

Die baba is vir waarneming na ‘n gesondheidsorgfasiliteit geneem en is in veilige sorg.

Die paartjie is sedertdien in aanhouding.