‘n Egpaar van Paulpietersburg naby Vryheid in KwaZulu-Natal is op 3 Julie op die plaas Morgenzon aangeval, berig Oorgrens Veiligheid.
Drie aanvallers het glo vir Amanda en Lothar Klingenberg (57) oorval toe hulle by hul huis aangekom het. Twee van die mans het vuurwapens gehad en die derde een ‘n mes.
Die voorval het omstreeks 17:00 gebeur.
Lothar is wreed aangerand en in die bobeen geskiet. Hy was vasgemaak en in ‘n stoorkamer gelos. Hy het baie bloed verloor en was in die Newcastle-hospitaal opgeneem, maar is ‘n dag later ontslaan.
Amanda, wat ook wreed aangerand is, het op die grond gelê en voorgegee dat sy bewusteloos is terwyl die aanvallers haar van haar werkfoon beroof het.
Terwyl die aanvallers die huis geplunder het, het sy daarin geslaag om haar persoonlike foon te kry en alarm te maak.
Hul seun Dillon het op haar noodroep gereageer en op die plaas aangekom. Een van die aanvallers was nog in die huis.
Die aanvaller het ‘n vuurwapen op hom gerig, maar Dillon het ook sy vuurwapen gereed gehad, wat die aanvaller agter ‘n muur laat skuiling soek het. Al drie aanvallers het toe te voet gevlug.



