Die polisie in die Vrystaat het twee liggame uit die Corneliusrivier naby Enzenzeleni, Warden, gehaal.
’n Ooggetuie het na bewering gesien hoe die pa, Bafana Radebe, sy driejarige seuntjie, Motivation Radebe, in die water gooi voordat hy op Saterdag 2 Julie self ingespring het.
Die 25-jarige pa het na bewering Saterdag met Motivation se ma, Sesi Radebe, gestry.
Sy het na die polisie gestap om hom aan te gee nadat hy haar Saterdag omstreeks 13:15 by die huis probeer verwurg het.
“Sy het na die polisiestasie in Warden begin stap om die saak aan te meld, maar hy het hulle gevolg. Hy het hulle uiteindelik naby Corneliusrivier voor die brug ingehaal. Hy het weer probeer om haar in die rivier te verwurg en in die water te gooi, maar het misluk omdat sy daarin geslaag het om te ontsnap en hom by die kleuter gelos het,” het ao Mmako Mophiring gesê.
’n Gemeenskapslid het glo gesien hoe Bafana sy seun in die water gooi toe die twee alleen saam was voordat hy self in die water gespring het.
Die saak is by die polisie aangemeld en die Sasolburg K9 Soek-en-reddingseenheid is na die toneel uitgestuur.
Die Welkom-duikeenheid het Sondag by die soektog aangesluit en die pa en seun se liggame is deur albei families opgespoor en positief uitgeken.
“Dit is ‘n hartseer voorval vir die families, veral vir die ma van die kind, maar ek versoek vroue wat enige vorm van mishandeling ervaar om die stilte te verbreek en die misbruikers dadelik aan te meld. Ek wil ons Vrystaatse polisie se soek-en-redding- en duikeenhede bedank dat hulle nie moeg is om die diens na ons gemeenskap te bring onder hierdie uitdagende en koue weerstoestande nie,” het die Vrystaatse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, gesê.
Bronne: MSN, The Citizen, News365
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Eskom maan inwoners van Soweto oor voorafbetaalde meters



