13-jarige seun en tannie sterf in silo vol mielies

Huldeblyke het ná die treurspel op sosiale media begin instroom.

‘n 13-jarige seun en ‘n 33-jarige vrou is Vrydagmiddag oorlede nadat albei van hulle in ‘n silo vol mielies versmoor het.

Selmari Rautenbach, die 13-jarige Kerneels se ma, het Vrydagmiddag dringend hulp ingeroep toe haar seun in ‘n silo op hul plaas ingeval het en tussen die mielies begin wegsink het.

Bure en gemeenskapslede het hulle na die gesin se plaas gehaas om ekstra hulp te verleen en ‘n volskaalse reddingspoging is deur die familie en vriende van stapel gestuur om die seun se lewe te probeer red.

Volgens Standerton Chronicle het sy tannie, Jackie Rautenbach, haar ook daarheen gehaas om te help, maar ook in die silo beland.

Jackie en Kerneels is op die toneel dood verklaar.

Die nooddienste op Standerton, waaronder polisie en medici, was ook op die toneel om te help.

Huldeblyke het ná die treurspel op sosiale media begin instroom.

Laerskool Standerton het op Facebook geskryf hulle groet ‘n spesiale Stannie-leerder.

“Ons harte is seer, ons woorde is min. Kerneels Rautenbach, in jou kort rukkie saam met ons op aarde, het jy baie harte aangeraak. Jy sal altyd onthou word vir die pragtige seun met die mooiste hart. Ons Stannies gaan jou mis. Rus in vrede Kerneels. Innige simpatie en meegevoel aan die Rautenbach-familie.”

Jackie se kind is ook ‘n leerder van dié skool.

“Ons Stannies dra ons innige meegevoel oor aan die Rautenbach-familie, met die afsterwe van Jackie Rautenbach. Jackie was ‘n mamma van een van ons Graad 5-leerders. Rus in vrede, Jackie. Jy was so dapper,” skryf die skool.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.