Taverne-tragedie: Koolstofmonoksied in slagoffers gevind

Die 12 meisies en nege seuns is geheimsinnig dood nadat hulle ‘n partytjie by die Scenery Park-lokaal bygewoon het waar gratis rondtes alkohol, wifi en fotosessies aan deelnemers belowe is.

Koolstofmonoksiedvergiftiging was die waarskynlike oorsaak van die dood van 21 tieners Sondag by Enyobeni-taverne in Scenery Park, Oos-Londen, berig News 24.

Bronne na aan die ondersoek meen die kinders – tussen die ouderdomme van 13 en 17 – se dood is deur giftige dampe afkomstig uit ‘n brandstof-opwekker wat vermoedelik binne die taverne gebruik is, veroorsaak.

Voorlopige resultate van nadoodse ondersoeke wat op die slagoffers gedoen is, het spore van koolstofmonoksied getoon.

Die finale lykskouingsuitslae sal na verwagting Woensdag of Donderdag bekend gemaak word.

‘n Goed ingeligte ondersoeker het gesê kenners van die polisie se misdaadtoneel het ‘n brandstof-kragopwekker in die lokaal, waar honderde jong mense van Saterdagaand tot vroeg Sondagoggend partytjie gehou het, gevind.

Daar word verneem die petroltenk van die kragopwekker was leeg toe dit gevind is.

‘n Bron het aan News24 gesê ontleders by die Universiteit van Kaapstad se forensiese patologie-laboratorium is besig om hul werk te finaliseer nadat die slagoffers se maaginhoud nagegaan is.

Yonela Dekeda, Oos-Kaapse gesondheidswoordvoerder, het bevestig monsters is na die Universiteit van Kaapstad gestuur, maar wou nie verdere vrae beantwoord nie en sê die saak word deur die polisie ondersoek en uitslae sal aan hulle gestuur word.

Dekeda het bygevoeg die feit dat die monsters na Kaapstad gestuur is, nie beteken dat daar ‘n gebrek aan kapasiteit in die Oos-Kaap is nie.

Die departement van gesondheid het gesê hy het Sondag 16 oorlewendes by sy Empilweni Gompo-gesondheidsentrum behandel en ontslaan.

Bheki Cele, minister van polisie, het ‘n hoëvlak-afvaardiging van misdaadtoneelkundiges van hoofkantoor ontplooi om die Oos-Kaapse misdaadtoneelondersoekspanne te ondersteun.

Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, brig. Thembinkosi Kinana, wou nie kommentaar lewer oor die voorlopige resultate nie en het gesê die saak word nog ondersoek.

“Geen nuwe inligting is in hierdie stadium beskikbaar nie en geen arrestasie is gemaak nie. ’n Verklaring sal eers vrygestel word sodra daar verdere ontwikkelinge is.

“Die 12 meisies en nege seuns is geheimsinnig dood nadat hulle ‘n partytjie by die Scenery Park-lokaal bygewoon het waar gratis rondtes alkohol, wifi en fotosessies aan deelnemers belowe is.”

Scenery Park-polisie is Sondag omstreeks 04:00 uitgeroep ná berigte van lewelose liggame by die taverne.

Met hul aankoms het hulle 17 dooie liggame binne die dubbelverdiepinggebou gevind.

Hulle het later vasgestel dat twee ander persone by ‘n plaaslike kliniek gesterf het. Nog een is in die hospitaal dood en nog een het op pad na ‘n hospitaal beswyk.

Scenery Park is in twee munisipale wyke verdeel – Wyk 5 en Wyk 7, elk verteenwoordig deur sy eie raadslid.

Die nedersetting, wat ‘n kombinasie van staatsgeboude huise en shacks is, is een van die mees onderontwikkelde gebiede in die Buffalo City Metro (BCM).

Nomthunzi Mbiko, streekstesourier van die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerorganisasie (Sanco), het Dinsdag tydens ‘n gemeenskapsvergadering in Scenery Park gesê een van die redes waarom tieners in die area na tavernes gaan, is omdat die munisipaliteit nie ontspanningsgeriewe vir hulle in die gebied bou nie.

“Hierdie kinders van hierdie area is verveeld omdat daar geen geriewe is nie, so hulle wend hulle tot drank om tyd te verwyl. Die munisipaliteit moet parke bou en belê in sport. Begin deur die plaaslike stadion op te knap sodat ons kinders kan sport speel en wegbly van tavernes,” sê Mbiko.

Sy het bygevoeg dat Sanco die BCM sal aanvat omdat hy slegs belowe het om gratis grafte aan die slagoffers van die tragedie toe te ken.

“Dit is onaanvaarbaar van ons plaaslike regering. Ons sal van deur tot deur gaan, al die slagoffers se families besoek om ‘n behoeftebepaling te doen en die verslag na die metro neem sodat hulle die gesinne dienooreenkomstig kan help. Hulle moet finansiële ondersteuning gee,” het Mbiko bygevoeg.

Sy het ook gesê Sanco sal enige regeringspogings beveg om ‘n “nuttelose en verkwistende” kommissie van ondersoek na die massadood van die jeug op die been te bring omdat kommissies oop is vir korrupsie.

“Te veel geld word aan hierdie kommissies bestee, wat sekere individue bevoordeel. Ons sê weg daarmee,” het Mbiko bygevoeg.

Sy het Dinsdag sowat 120 gemeenskapslede op die toneel van die tragedie toegespreek.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.