Ghislaine Maxwell, eertydse Britse sosiale vlinder, is tot 20 jaar in ‘n Amerikaanse tronk gevonnis omdat sy die voormalige finansierder Jeffrey Epstein tot hulp was om jong meisies te misbruik.
Maxwell (60) is in Desember skuldig bevind aan die werwing en handeldryf van vier tienermeisies vir seksuele misbruik deur die pedofiel, Epstein, haar destydse kêrel.
Een van haar beskuldigers het vroeër buite die hof gesê Maxwell moet vir die res van haar lewe in die tronk bly.
Epstein het homself in 2019 in ‘n Manhattan-tronksel om die lewe gebring.
Hy was afwagtend vir sy eie sekshandelverhoor.
Ghislaine Maxwell se misdade het oor ‘n dekade, tussen 1994 en 2004, plaasgevind.
Voor haar vonnisoplegging het Maxwell, geklee in tronkklere, die slagoffers om verskoning gevra.
Sy het gesê sy het empatie met hulle en haar ontmoeting met Epstein is die ding waaroor sy die grootste berou in haar lewe het.
“My verbintenis met Epstein sal my permanent bevlek,” het sy gesê en bygevoeg sy hoop haar tronkstraf sal die slagoffers “vrede en finaliteit” gee.
Maxwell is sedert haar inhegtenisneming in Julie 2020 in aanhouding, hoofsaaklik in Brooklyn se Metropolitaanse Aanhoudingsentrum, waar sy gekla het oor die stank van rou riool in haar sel.
Bronne: BBC, New York Post
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Ghislaine Maxwell is herverhoor geweier



