Die wenner van die #AbsaWinAChery-kompetisie het vandag haar motor by Human Auto Chery in Kimberley ontvang.
Tharwah Allie en haar man, Shameeg, het al die pad vanaf die Wes-Kaap gereis om dié splinternuwe motor te ontvang.
Al wat deelnemers moes doen, was om ’n foto by die nuwe Chery Tiggo 4 by enige Chery-handelaar te neem. Die foto moes dan op Twitter geplaas word met die hutsmerk #AbsaWinAChery.
Ontvang haar motor
Tharwah sê aan FiND iT sy het die kompetisie aan die einde van April gesien en vir haar pa gesê van die kompetisie. “Hy het gesê skryf in, want hy weet ek sal wen. Hy het ook gesê hy gaan al die pad saam Kimberley toe om die oorhandiging te doen. Hy het ’n goeie gevoel oor die kompetisie gehad.”
Skryf in na pa se dood
Tharwah sê sy het haar pa nie ernstig opgeneem nie en hy is tragies op 3 Mei oorlede. “Dit was moeilik. Ek het daardie dag aan sy woorde gedink en ek is toe die volgende dag, 5 Mei, na die Chery-handelaar in Century City. Ek het my inskrywingsfoto’s geneem en ek het elke dag ingeskryf, van daardie dag af, tot middernag aan die einde van die kompetisie. Ek het op 10 Junie die nuus gekry dat ek een van die finaliste is en ek was so gelukkig. Hulle het my ’n week later gebel nadat alles afgehandel was en gesê ek het gewen. Ek het soos begin huil van blydskap. Ek voel so dankbaar en bly dat ek vir die kompetisie ingeskryf het. Dit is nie iets wat jy maklik kan kry nie. Ek is net so hartseer dat my pa nie nou by my kan wees om fees te vier nie. Hy is die rede hoekom ek vir die kompetisie ingeskryf het.”
Absa “verander mense se lewens”
Tharwah is vol lof vir Absa en sê Absa het al so baie mense gehelp. “Dit wat hulle aanbied verander mense se lewens. Ek is so dankbaar vir Absa.”
Bruwer Nel, hoof van handelaarbetrekkinge by Absa, sê dis vir Absa baie belangrik om kliënte van naderby te leer ken en ook so betrokke te raak by kliënte en besigheidsvennote. “Dis vir ons baie spesiaal om vandag die prys te oorhandig. Ek was so gelukkig om self mev. Allie te kon bel met die blye nuus en dit was vir my net so ‘n spesiale ondervinding. Ons hoop sy het baie veilige myle met die motor.”
Wonderwerke gebeur nog
Nel sê hy dink dit inspireer mense om te sien daar kan nog wonderwerke gebeur en dat Absa deel is daarvan om mense se drome waar te maak.
Tharwah en haar man, Shameeg, tesame met hulle een seun, sal nou die tog terug neem Wes-Kaap toe, waar sy nou in haar splinternuwe Chery Tiggo 4 haar kinders kan rondry.
Besoek Human Auto Chery Kimberley by 53-61 Stockdalestraat of kontak hulle by 053 831 3661. Dalk is daar ’n Chery met jou naam op vir jou volgende koop!



